|

AfriForum begin met regstappe teen tariefverhogings vir Pretorianers

Inwoners van Pretoria en die groter metro sal moet saamstaan teen die onwettige tariefverhogings wat die Tshwane-metroraad vandeesweek sonder die goedkeuring van Nersa ingestel het.

Om dié onwettige optrede om te draai, het AfriForum gister hofstukke op die metroraad en Nersa beteken nadat dié munisipaliteit sedert die begin van die maand voortgegaan het om onwettige elektrisiteitverhogings sonder Nersa se goedkeuring te implementeer.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, hou die Tshwane-metro vol dat hulle die uitvoerende gesag is en daarom die verhoogde tarief sonder die nodige goedkeuring van Nersa mag implementeer. “Kragtens die wet is die Tshwane-metro nie by magte om die tarief te implementeer nie en ons sal teen dié onbillikheid optree. Aangesien nóg Nersa nóg die Tshwane-metro op enige van AfriForum se skrywes gereageer het, is daar geen ander remedie as om die dringende hof te nader nie,” sê Grobbelaar.

Kragtens artikel 14 van die Elektrisiteitsreguleringswet (wet no. 4 van 2006) mag die munisipaliteit nie sonder Nersa se goedkeuring ’n verhoogde elektrisiteitstarief implementeer nie.

Grobbelaar sê ook dat talle inwoners reeds by AfriForum om hulp kom aanklop het omdat hulle ’n basiese tarief van R56 moes betaal en ook heelwat minder eenhede as die vorige maand gekry het. Inwoners het ook hul kommer oor dié verhoging – wat boonop tot groot verwarring gelei het – op sosiale media uitgespreek.

Daar was aanvanklik groot onsekerheid rondom die tariefverhogings vir Tshwane. AfriForum het die vergaderings in Pretoria bygewoon waar Nersa die metro gekap het en gemaan het om sy huis in orde te kry nadat dit geblyk het daar onder meer ’n gebrekkige openbare deelnameproses oor tariefverhogings was.

Nersa het die tariefverhoging vir munisipaliteite op 13% vasgestel en verhogings wat Tshwane voorgestel het, het vroeër geblyk bo die riglyn te wees.

Intussen het Abel Tau, burgermeesterskomiteelid vir nutsdienste, aangevoer dat die metroraad weer na sy voorgestelde tariewe gekyk het en dat dit nou binne die Nersa riglyn val. Die metro het aanvanklik ’n 12%-verhoging aanvaar en dit het geblyk dat ’n verdere R200 per maand vir enige meter of vir krag gebruik of nie gebruik nie op verbruikers se rekeninge sou verskyn. Dit is die bedrag wat Pretorianers woedend gemaak het en dit is toe na R56 verlaag.

Die VF Plus in die Tshwane-raad het hom van enige onwettige optrede deur die metro oor tariefstygings gedistansieer en gesê die metro moet oop kaarte met inwoners speel.

Volgens die party is daar ’n enorme kommunikasiegaping tussen die metro en inwoners. Die VF Plus is nie gekant teen kragverhogings nie, maar sê dit moet binne Nersa se riglyne wees.

AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Pretoria om die petisie te teken en AfriForum in die saak by te staan. Klik hier om die petisie te onderteken.

Soortgelyke plasings