AfriForum bedank bloedskenkers op Wêreldbloedskenkersdag


AfriForum bedank op Internasionale Bloedskenkersdag almal wat bloed skenk en op dié wyse tallose lewens help red. AfriForum bedank ook die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) vir die diens wat hulle lewer. Die publiek word jaarliks op 14 Junie wêreldwyd oor die behoefte aan veilige bloed en bloedprodukte ingelig. ’n Skenking van een eenheid bloed kan tot drie lewens red.
Volgens die SANBD skenk net sowat 1% van die Suid-Afrikaanse bevolking bloed. Die diens se webwerf dui deurentyd aan vir hoeveel dae se beskikbare voorraad bloed en bloedplaatjies daar oor is. AfriForum doen ’n beroep op mense om gereeld aan skenkingsgeleenthede deel te neem.
AfriForum versoek die SANBD egter dringend om hul huidige eentalige Engelse taalbeleid aan te pas om skenkers meertalig te bedien. Navorsing wat AfriForum tans onderneem, dui op die groot behoefte wat mense aan mediese inligting en dienste in hul eie taal het. Skenkers kla gereeld by AfriForum oor die gebrek aan skenkingsvorms wat voorheen ook in Afrikaans beskikbaar was, maar nou net in Engels voorsien word.

“Met vorms en inligting in meer van die elf Suid-Afrikaanse amptelike tale kan die SANBD nog méér mense bereik en oortuig om skenkers te word. Skenkers sal ook makliker gerusgestel kan word dat die proses veilig is en bewus word van hoe enigeen letterlik ’n held en lewensredder kan word. Dit sal ’n wen-wen-geleentheid vir almal wees,” sê Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum.

Soortgelyke plasings