AfriForum appelleer teen Gelykheidshof se uitspraak oor ou Suid-Afrikaanse vlag

AfriForum het vandag tydens ’n mediakonferensie in Centurion redes gegee waarom die burgerregte-organisasie appèl aanteken teen die gelykheidshof se onlangse uitspraak dat die vertoon van die 1928-vlag (die ou Suid-Afrikaanse vlag) haatspraak is. Die onderskeie partye se hofstukke is ook tydens die konferensie bekend gemaak.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat AfriForum sterk ten gunste van spraakvryheid is, maar dat die organisasie terselfdertyd glo dat daadwerklike haatspraak beveg moet word. Die feit dat die ou vlag vir sommige mense aanstoot gee, is in terme van die bepalings van die Suid-Afrikaanse Grondwet nie ’n geldige rede om dit tot haatspraak te verklaar nie.

“AfriForum se standpunt was nog altyd dat haatspraak plaasvind wanneer haat teen ’n groep mense gepropageer word op grond van hulle identiteit (byvoorbeeld hul ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens) én wanneer die uitspraak in hierdie verband gekombineer word met ’n aanhitsing om daardie groep skade aan te doen. Die onlangse uitspraak van die hoogste hof van appèl in die saak van Qwelane vs. die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het hierdie standpunt bevestig. Dit is na ons mening die korrekte vertolking van die Grondwet se bepalings oor haatspraak.”

Volgens Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, glo die organisasie dat die appèlhof se uitspraak AfriForum se saak sal versterk, maar dat dit terselfdertyd nie ’n nadelige impak sal hê op ander haatspraaksake waarby AfriForum betrokke is nie, aangesien daardie sake juis oor aanhitsing gaan en nie bloot oor aanstootlikheid nie.

AfriForum se standpunt oor die vertoon van die ou Suid-Afrikaanse vlag en die vraag of dit haatspraak is kan soos volg opgesom word:

  1. AfriForum gee erkenning aan die feit dat die vertoon van die 1928-vlag aan ’n deel van die bevolking aanstoot gee. Dit is ook die rede waarom AfriForum nie die vlag vertoon nie. AfriForum is verbind tot die bevordering van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe.
  2. Die vertoon van die vlag kan slegs op haatspraak neerkom indien dit gekombineer word met ’n boodskap wat mense op grond van hul ras of etnisiteit teiken en die boodskap ook ’n aanhitsing bevat om daardie groep skade aan te doen. In die afwesigheid van so ’n boodskap is die aanstoot wat die vlag kan gee, nie voldoende om dit in terme van die Grondwet se bepalings tot haatspraak te verklaar nie.
  3. AfriForum is sterk ten gunste van vryheid van spraak en glo terselfdertyd dat daadwerklike haatspraak beveg moet word.
  4. AfriForum is van mening dat ’n verbanning van die vlag die teenoorgestelde effek sal hê as wat daarmee beoog word, naamlik dat dit die vlag meer gewild maak juis omdat die onderdrukking van spraakvryheid ’n teenreaksie skep. Die publieke reaksie op die gelykheidshof se uitspraak bevestig dit alreeds.
  5. Om AfriForum se verdediging van vryheid van spraak in hierdie saak te vertolk as ’n poging om die skending van mense se waardigheid tydens apartheid te regverdig, is ’n moedswillige verdraaiing van AfriForum se standpunt.

AfriForum het ook die Konstitusionele Hof se besluit om die Nelson Mandela-stigting (NMS) se aansoek om appèl oor die vlagtwietsaak uit te gooi verwelkom. Die hof het beslis dat dit nie in belang van geregtigheid is dat die appèlsaak  aangehoor word nie. Dít volg nadat die NMS by die Konstitusionele Hof aansoek gedoen het dat die klag van beweerde minagting van die hof deur Ernst Roets op appèl geneem moet word. Die Suid-Gautengse hooggeregshof het die stigting se saak teen Roets vroeër vanjaar uitgegooi.

Soortgelyke plasings