AfriForum aktief in Phalaborwa betrokke


AfriForum se Phalaborwa-tak is hard aan die werk in dié dorp se gemeenskap: Die tak het die afgelope naweek inwoners van Bougainvillea-park gehelp om dié ouetehuis skoon te maak en vullis te verwyder. Die tak het ook ’n kontrakteur aangestel wat hierdie take voortaan weekliks sal verrig.
Die tak het in Mei ’n brief aan P.J. Shavi, die burgemeester, geskryf oor die swak toestand van Impala-park. AfriForum het onder meer in hul skrywe versoek dat die munisipaliteit gebreekte glas verwyder, asook elektrisiteitsbokse wat oopstaan, netbalbane en ligte herstel. Die tak het ook in die brief versoek dat openbare kleedkamers by dié park opgeknap word.

“Die munisipaliteit het ons skrywe in ’n gunstige lig ontvang en het intussen die netbalbane geverf, die terrein netjies gemaak, tuine opgeknap en ’n kontrakteur aangestel om elektrisiteitsbokse te herstel,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Volgens Saartjie Matthysen, voorsitter van AfriForum se Phalaborwa-tak, moet daar egter nóg herstelwerk plaasvind.

“Die toilette is nog in ’n onbruikbare toestand, maar met goeie samewerking tussen AfriForum en die munisipaliteit sal ons die sportgronde weer vinnig op peil kry. Ek bedank die burgemeester vir sy samewerking en sal graag wil voortbou op ons goeie samewerkingsverhouding.”

SMS “Selfdoen” na 45340 (R1) om by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings