Spyskaart +

AfriExit?

Maart 14, 2017 deur Annelise

Oor die laaste paar maande het die taaldebat se onderwerp verander van of Afrikaans uit hoëronderriginstellings geforseer gaan word na hoe vinnig dit sal geskied.

Die #FeesMustFall-veldtog het oor die laaste paar jaar veroorsaak dat stabiele hoëronderriginstellings in chaos begin verval het. Die universiteitsbestuur ontken dit natuurlik, maar daardeur beskadig hulle hul eie geloofwaardigheid. Verskeie dosente en studente op die Universiteit Stellenbosch het al vir my gesê dat ons die bestuur moet los om hul eie grafte te grawe. Hoewel ek met dié idee saamstem, dink ek dit is in hierdie geval die verkeerde benadering om te volg, want as die universiteitsbesture sou val, val die universiteit saam met hulle. Dit is egter nie die scenario wat die meeste mense (#FeesMustFall en EFF uitgesluit) verkies nie. Die meeste studente wil net studeer, hul grade verwerf en die arbeidsmark betree. Hierdie studente-apatie is moontlik die rede waarom sulke klein gewelddadige groepies so baie op kampusse kan vermag.

Grotendeels kan mens ook nie net die apatiese studente blameer nie. Wat dink die publiek byvoorbeeld van die afskaffing van Afrikaans?

Die hoofstroommedia berig meestal in isolasie oor die afskaffing van Afrikaans – hoekom? Dit word gedoen om die politieke ideologie daaragter te vermy. Vanuit ʼn student se perspektief wil dit voorkom of die afskaffing van Afrikaans slegs een komponent van die transformasie-ideologie is.

Wat bedoel ek hiermee?

Universiteitsbesture vry deesdae na die ideologie van transformasie. ’n Belangrike deel van dié ideologie is die afskaffing van Afrikaans – die universiteite van die Stellenbosch en die Noordwes is besig met ’n geleidelike uitfasering eerder as die direkte benadering soos dié van die universiteite van Suid-Afrika, Pretoria en die Vrystaat. Die afskaffing van Afrikaans gaan hand aan hand met die afskaffing van gesonde studentetradisies, strenger rasgebaseerdekoshuisplasings en strenger rasgebaseerde universiteitstoelatingkwotas. Die gevaarlikste deel is die dekolonialisering van onderrig. Die media rapporteer hierdie dele van die ideologie ook in isolasie en groepeer dit nooit soos dit op universiteite bestaan en aan studente oorgedra word nie.

Uit die bogenoemde sien mens dat meriete by die deur uit gegooi word wanneer die transformasie-ideologie gevolg word. Harde werk is nie meer genoeg om jou ’n plek in Suid-Afrikaanse universiteite te verseker as jou ras “verkeerd” is nie.

Opsommend kan mens die twee hoofstroomideologieë vergelyk: meriete of transformasie. Die gevestigde merietestelsel laat keuring op meriete plaasvind en instansies word uitgebrei en nuwe instellings gebou. Die transformasie-ideologie bepaal dat uitsluiting bó meriete die bepalende faktor moet wees.

Die vraag is dus: Wil ons ’n hoëronderrigstelsel hê wat natuurlik saam met die aanvraag groei en slegs meriete jou toegang tot tersiêre onderrig bepaal, of ’n transformasie-ideologie wat geen natuurlike groei stimuleer nie en eerder bestaande vermoë verdeel en verdienstelike studente hoofsaaklik weens hul ras, geslag en – nou ook – taal uitgesluit word?

Ek wil u dus met die volgende gedagte laat: Kies u ’n stelsel waar alle akademies verdienstelike studente geakkommodeer word, of ’n transformasie-ideologie van uitsluiting?

Bernard Pieters is AfriForum Jeug se kampuskoördineerder vir Maties en Wellington.