Menu +

Africa Check se geloofwaardigheidskrisis

December 12, 2017 deur Alet Rademeyer

Om onakkurate statistiek in die openbaar te gebruik, kan katastrofies wees vir ’n persoon of organisasie se geloofwaardigheid. Ongelukkig is dit duidelik dat almal nie ewe bekommerd daaroor is nie. Dit is juis waarom daar in Suid-Afrika ’n werklike behoefte aan ’n instelling soos Africa Check is, wat gestig is om die korrektheid van verklarings deur openbare figure te na te gaan.

Ongelukkig bevorder Africa Check hom aktief vir ’n bepaalde politieke ideologie en publiseer sensasionele bevindings onder dramatiese opskrifte eerder as om werklik feite te kontroleer. Nie net is ek herhaaldelik verkeerd deur Afica Check aangehaal en as “verkeerd” of “oneerlik” uitgekryt op grond van iets wat ek nooit gesê het nie – ek het ook herhaaldelik gesien hoe dit met ander gebeur.

Die eerste keer was in 2013, kort ná Africa Check se stigting, toe een van hul feitekontroleerders my gevra het om ’n sekere verklaring te verduidelik wat ek oor wit armoede gemaak het. Die BBC het aangehaal dat ek gesê het meer as ʼn honderdduisend wit mense leef in omstandighede “soos dié”. Die betrokke omstandighede het betrekking gehad op mense wat in Wendy-huise, agterkamers, vervalle geboue en ander soorte behuising woon. Op grond van ʼn opname wat bevind het 8 000 wit gesinne woon in hutte, woonwaens en tente het Afica Check verklaar dat my verklaring vals is. Dit is presies wat ’n strooipop-argument is: die gevolgtrekking dat iemand oneerlik is omdat iets wat hy nooit gesê het nie onwaar is. Wat daardie ontmoeting nog interessanter maak, is die manier waarop ek deur Africa Check aangehaal is. Ons het die saak in Afrikaans oor die telefoon bespreek. Toe die storie gepubliseer word, is my woorde in vrot Engels vertaal, kompleet met “sic”-aanduidings. Die wanvoorstelling van iemand as iemand wat nie Engels vaardig is nie laat vrae ontstaan oor daardie persoon se intelligensie en maak dit makliker om die feite wat aangebied word te bevraagteken.

Ek merk herhaaldelik op dat mense wat met Afica Check geaffilieer is hulself as ideologiese aktiviste beskou eerder as objektiewe feitekontroleurs. Ek merk ook ʼn klaarblyklike gebrek aan opleiding in logiese redenering. ʼn Vername persoon wat bande met Africa Check het (na bewering die persoon wat in beheer van opleiding is), het byvoorbeeld gesê: “Because let’s be honest, it’s MORE FUCKING LIKELY ALL WHITE MEN WILL GO TO THE MOON THAN LOSE THE VOTE”. Ek het gereageer met: “This type of tweeting is damaging to @AfricaCheck’s reputation as a non-partisan fact checker.” Dieselfde persoon het toe op my twiet gereageer deur te beweer dat ek haar van haatspraak beskuldig het. #Strawman.

Vroeër het dr. Frans Cronje, hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, soos volg oor Africa Check verklaar:

(T)here is a strong propensity to declare as “wrong” or “incorrect” fact-based claims that could easily be argued to be right. This is dangerous as it will deter journalists, researchers, and politicians from citing data in their analyses.

Africa Check het teruggekap deur te meld dat hy iets heeltemal anders gesê het en hom toe op grond van dié opgemaakte storie aan te val. Die waarnemende redakteur van Africa Check het geskryf:

In a Politicsweb article, Frans Cronje of the IRR then criticised Africa Check for questioning the institute’s findings and suggested that scrutinising the evidence, good or bad, for claims made in public debate is “dangerous”.

Deur op dié wyse op Cronjé se verklaring te reageer, het Africa Check bevestig dat daar meriete in sy besorgdheid is. Lees dit weer … Wat Cronjé gesê het, is dat dit “gevaarlik” is om feite wat maklik reg bewys kan word as “verkeerd” of “foutief” te verklaar. Africa Check het toe beweer hy het gesê dat dit “gevaarlik” is om bewyse te ondersoek vir iets wat in die openbaar gesê is en hom gekritiseer op grond van hul vals bewerings oor wat hy gesê het. Sowaar.

Net soos in my geval kan die uitbeelding van Cronje se stelling slegs op een van twee goed dui: óf ’n kwaadwillige wanvoorstelling van sy opmerking, óf ’n nalatige wanvoorstelling van sy opmerking.

Meer onlangs het Africa Check ’n sensasionele storie gepubliseer waarin hulle beweer dat AfriForum oor plaasmoorde lieg. Hulle het tot dié gevolgtrekking gekom nadat hulle AfriForum se standpunt oor plaasmoordstatistieke ontleed het; of liewer dit wat volgens hulle AfriForum se standpunt is. Die ontleding bewys egter net dat die skrywer ’n foutiewe persepsie van AfriForum se standpunt oor plaasmoordstatistieke het en oënskynlik nie die onderliggende nuanses van die onderwerp verstaan nie. As Africa Check enige van die vele konferensies en geleenthede bygewoon het waar ek sélf AfriForum se posisie oor plaasmoordstatistieke uiteengesit het, sou hulle die kwessie waarskynlik anders benader het. Dit sou egter tot ’n minder sensasionele, minder klikaas-vriendelike ontleding gelei het. Ek het AfriForum se posisie en die uitdagings rakende statistiek oor plaasaanvalle verskeie kere uiteengesit en ook uitgebreid daaroor geskryf in ’n boek wat volgende jaar gepubliseer word.

AfriForum het herhaaldelik op die foute in die beskikbare data oor plaasmoorde gewys. Tog glo ons dat dit die betroubaarste poging is om die tempo te bereken waarteen kommersiële boere vermoor word. Africa Check beweer egter dat ons by AfriForum onbewus is van die foute in die data wat ons self uitgewys het; dan kritiseer hulle AfriForum se gevolgtrekking, maar begaan in die proses ’n klomp logiese en berekeningsfoute – en kom tot die gevolgtrekking dat AfriForum uit die staanspoor oneerlik was. Africa Check wend intussen geen poging aan om die tempo waarteen kommersiële boere in Suid-Afrika vermoor word meer akkuraat te bereken nie. Hulle verkies om tot ’n gevolgtrekking te kom op grond van die feit dat die berekening nie perfek is nie en bevestig boonop AfriForum se aanvanklike standpunt: dat die data sekere foute bevat wat in ag geneem moet word, maar dat AfriForum se berekening die beste poging tot die kwantifisering van die verhouding is.

In ’n artikel met die dramatiese titel Racial scaremongering in South Africa makes light of women’s murders het Africa Check gereageer op iets wat Steve Hofmeyr gesê het oor swart-op-wit-misdaad. Hofmeyr het gesê “wit vroue sal waarskynlik deur onbekende swart mans vermoor word”. Africa Check se span het aggressief op Twitter gereageer, met ’n analise geantwoord en verklaar dat sy stelling onwaar is. Africa Check se ontleding het egter misluk, want hulle het die bronne wat hulle gekies het om Hofmeyr mee verkeerd te bewys verkeerd vertolk; daardie bronne bewys daar is meriete in Hofmeyr se stelling.

Anders gestel: wat ons Africa Check gereeld sien doen, is om te sê ʼn persoon of organisasie wat byvoorbeeld argumenteer 1 + 1 = 2 is verkeerd of oneerlik omdat Afica Check kan bewys 2 + 2 = 4 en nie 2 nie. Gelaaide taal soos “dodgy stats”, “dishonest” en “scaremongering” word vermoedelik as klikaas gebruik om lesers na hulle webwerf te lok.

Die feit dat Africa Check die standpunte van diegene wie se feite hulle nagaan verkeerd weergee, dat hulle appels met lemoene vergelyk, en dat die organisasie (of ten minste party van hul verslaggewers) ideologiese aktiviste is met gebrekkige opleiding in logiese redenering (of die toepassing van hul opleiding) toon duidelik dat die organisasie ’n toenemende geloofwaardigheidskrisis beleef.

Ernst Roets

Ernst is adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum