Adv. Nel, AfriForum staan Mugabe-slagoffer by


Die burgerregte-waghond AfriForum en adv. Gerrie Nel, hoof van dié organisasie se privaat vervolgingseenheid, het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat hulle mej. Gabriella Engels gaan bystaan om toe te sien dat geregtigheid geskied met die aanrandingsklag wat mej. Engels teen mev. Grace Mugabe, die Zimbabwiese presidentsvrou, ingedien het.
Dié hulp behels onder meer dat adv. Nel die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se hantering van die saak sal moniteer, asook die inwerkingstelling van privaat vervolging, sou die NVG sonder grondige redes versuim om mev. Mugabe te vervolg. Sou diplomatieke immuniteit aan mev. Mugabe toegestaan word, is AfriForum ook bereid om hierdie toekenning van immuniteit tot in die hoogste hof te beveg. AfriForum se trauma-eenheid sal ook hulp aan mej. Engels verleen om die trauma van die aanranding te verwerk.
Mej. Engels, wat ook by AfriForum se mediakonferensie teenwoordig was, sê sy is dankbaar dat adv. Nel en AfriForum haar bystaan.

“’n Mens voel magteloos as jy die slagoffer is van geweld deur ’n persoon soos mev. Mugabe, wat ’n magsposisie beklee. Dit is gerusstellend dat mense soos adv. Nel en AfriForum bereid is om toe te sien dat geregtigheid geskied.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat dit vir sy organisasie ’n voorreg is om iemand soos mej. Engels te ondersteun omdat sy bereid is om te midde van geweldige druk standpunt vir geregtigheid in te neem.
Adv. Nel sê die privaat vervolgingseenheid is juis gestig om te help toesien dat daar gelykheid voor die reg is.

“Niemand, ook nie mev. Grace Mugabe nie, moet toegelaat word om die reg weens hul magsposisie te omseil nie,” voeg Nel by. Volgens Nel sal hy ook skrywes aan die SAPD en die NVG stuur waarin hy versoek dat die saak so spoedig moontlik verder gevoer word. “Sou hulle dit nie doen nie, is daar ’n besliste moontlikheid vir privaat vervolging,” sê Nel.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, dui aan dat hy reeds ’n skrywe aan die departement van internasionale betrekkinge en samewerking gestuur het waarin hy die departement daarop wys dat daar nie grondige redes bestaan om diplomatieke immuniteit aan mev. Mugabe toe te staan nie.

“Sou die departement steeds voortgaan om diplomatieke immuniteit aan mev. Mugabe toe te staan, is so ’n besluit ‘n administratiewe handeling wat deur ’n hof op grond van irrasionaliteit hersien kan word. AfriForum sal indien nodig die saak tot in die hoogste howe voer,” sê Spies.

Caty van der Merwe, operasionele bestuurder van AfriForum se trauma-eenheid, sê dat die slagoffers van geweldsmisdaad aan geweldige trauma onderwerp word.

“Dit is soveel te meer die geval as die aanvaller ’n magsposisie beklee wat die slagoffer meer kwesbaar laat. AfriForum se trauma-eenheid sal alle nodige bystand aan mej. Engels lewer wat sy sou benodig om die voorval te verwerk,” sê Van der Merwe.

Soortgelyke plasings