|

Adv. Gerrie Nel wil vervolg na dood van voormalige Rwandese intelligensiehoof

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag in die Randburgse streekhof verskyn in ’n geregtelike doodsondersoek van kol. Patrick Karegeya, die voormalige intelligensiehoof van Rwanda.

Karegeya is op 31 Desember 2013 verwurg en dood in sy hotelkamer by die Michelangelo Hotel in Sandton gevind. Hy het asiel in Suid-Afrika gesoek nadat hy uit Rwanda gevlug het.

Luidens die polisiedossier het Karegeya ’n voormalige kollega en vriend in dié betrokke hotel ontmoet. Na Karegeya se dood, het drie Rwandese mans (insluitend die vriend) Suid-Afrika binne ure verlaat. Daar is aantygings dat die Rwandese Ambassade van hierdie persone buite die hotel opgelaai en na Rwanda gevlieg het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid is namens Karegeya se familie en ander partye genader om vas te stel waarom sy dood nie behoorlik ondersoek word nie met die oog daarop om die verantwoordelike persone te arresteer en te vervolg.

Nel en sy span het dus die byeenroeping versoek van ’n voorverhoorvergadering met die voorsittende ondersoek-landdros waartydens hulle hierdie kwessies wou opper. Dít het egter nooit gerealiseer nie.

Ná AfriForum se ingryping het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) wel na byna ses jaar besluit om die saak voor die landdros in te dien vir ’n geregtelike ondersoek na Karegeya se dood.

Nel het in die hof aangevoer dat die geregtelike doodsondersoek egter ’n misbruik van regsprosesse, sowel as die toesmeer van ’n gruwelike misdaad is. Hy meen ’n geregtelike ondersoek is nie die gepaste roete in hierdie saak nie en die NVG se besluit is onverklaarbaar in ag genome die inhoud van die dossier.

Die NVG het ook nie aansoek gedoen vir wedersydse regsbystand van die Rwandese regering nie, en ook nie vir die uitlewering van die relevante individue nie.

“’n Geregtelike ondersoek moet slegs gehou word om die volgende te bepaal: die identiteit van die oorledene, oorsaak en datum van dood, en of die dood veroorsaak is deur ’n handeling wat neerkom op ’n misdryf deur enige persoon. As mens na die saakdossier kyk, is daar voldoende inligting om onmiddellik met ’n vervolging voort te gaan. Omdat daar geen rede is vir die vervolging om nie voort te gaan nie, moet ons ons eie afleidings maak. Daar móét politieke inmenging wees.”

Adv. Yusuf Baba, wat namens die staat opgetree het, het aangevoer dat AfriForum nie die reg het om só aansoek te bring nie omdat die Wet op Geregtelike Doodsondersoekewet volgens hom nie voorsiening maak vir só aansoek nie.

Landdros Mashiane Mothopa sal op Maandag 21 Januarie 2019 uitspraak gee rakende AfriForum se aansoek dat die geregtelike doodsondersoek gestaak word.

“AfriForum vertrou dat ons regering nooit sal toelaat dat Suid-Afrika deur sluipmoordenaars gebruik word om teikens te jag en uit te wis nie, of dit polities gemotiveerd is al dan nie. Dit is waarom ons Karegeya se familie in hierdie saak bystaan,” het Nel gesê.

Volgens Nel is die versuim van die polisie en die NVG om hierdie saak voor die hof te bring onverstaanbaar. “Ons hoop en glo dat die landdros ons argumente ter harte sal neem en uitspraak sal gee wat ons sal noop om verdere stappe te neem.”

Karegeya se weduwee, Leah, was ook vandag in die hof. Sy het van die VSA gekom om die verrigtinge by te woon. Sy het aan die media gesê sy glo dat politieke inmengery die rede vir haar man se dood is.

Daar was ook in 2010 twee pogings om Faustin Kayumba Nyamwasa, die voormalige hoof van die Rwandese weermag, en wat ook toe in Suid-Afrika was, om die lewe te bring.

Soortgelyke plasings