Adv. Gerrie Nel bied Knak Korrupsie-opleiding in Port Elizabeth aan


AfriForum se Knak Korrupsie-werkswinkel is op 5 Junie 2018 in Port Elizabeth aangebied. Dít volg nadat die burgerregtewaghond se teenkorrupsie-eenheid onlangs ook na plaaslikeregeringsvlak uitgebrei is om korrupsie wat op hierdie vlak plaasvind met behulp van die gemeenskap te ontbloot.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en Wico Swanepoel, die organisasie se regsadviseur vir plaaslike korrupsie, het die gemeenskap van Port Elizabeth toegespreek en korrupsie op ’n praktiese wyse tydens die werkswinkel omskryf.

“Korrupsie is ’n ernstige probleem vir die Suid-Afrikaanse samelewing en die plig lê by ons elkeen om korrupte optrede bloot te lê,” sê Dirk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Port Elizabeth.

Adv. Nel het verduidelik wat korrupsie behels en hoe dit aan die kaak gestel kan word. Hy het onder meer klem gelê op goeie ondersoekwerk, gewone en deskundige getuies, sorgvuldige dokumentering, fluitjieblasers en die gebruik van tegnologie om korrupsie te ondersoek en te ontbloot.
Wil jy by die stryd teen korrupsie betrokke raak? Stuur ’n e-pos na jan.badenhorst@afriforum.co.za om ’n verskil in jóú dorp te maak.

Soortgelyke plasings