| | |

Aansoek om verlof tot appèl in SEB-noodfondssaak

AfriForum en Solidariteit het vandag aansoeke om verlof tot appèl in hul onderskeie sake teen die Departement van Toerisme in die Noord-Gautengse hooggeregshof beteken. Dít volg nadat hierdie departement vroeër bekendgemaak het dat hy noodfondse vir ondernemings in dié bedryf wat deur die COVID-19-krisis geraak word onderhewig aan rassemaatstawwe sal toedeel.

Solidariteit voer aan dat die regering ’n verantwoordelikheid teenoor alle burgers in die land het en dat dit waansinnig en immoreel van die regering is om aan te dring dat hy ’n reg het om te mag diskrimineer.

“Dit is verregaande dat noodfondse op so ’n wyse toegedeel word. Ons praat nie hier van subsidies of steun nie. Ons praat van ’n regering wat ’n bedryf tot op sy knieë dwing met ’n lomp en skadelike inperking en wat dan besluit dat net eienaars wat aan ’n sekere rassegroep behoort toegang tot noodfondse mag hê,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

AfriForum wys daarop dat die COVID-19-krisis die regering se ware kleure en rasgedrewe doelstellings ontbloot het, wat meebring dat minderhede opnuut sal moet besin oor maniere om na hulself en mekaar om te sien te midde van die vyandigheid van ’n regering wat beslis nie na alle burgers se belange wil omsien nie, selfs nie in ’n krisistyd nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die appèlaansoek maar net die begin van ’n regsproses wat AfriForum bereid is om uiteindelik tot in die hoogste hof in die land en selfs internasionaal te voer. “Dit is belangrik dat regsekerheid verkry word of dit wel so is dat terwyl minderhede se regte reeds so ondergeskik in die huidige grondwetlike bedeling gestel word, daar selfs tydens ’n noodsituasie blatant teen minderhede gediskrimineer kan word,” voeg Kriel by.

Soortgelyke plasings