Aanlynskoleregistrasie uitgestel ná druk van AfriForum en SOS


Die burgerregtewaghond AfriForum en die Solidariteit Beweging se Skole­ondersteuningsentrum (SOS) het pas verneem dat die Gautengse onderwysdepartement die aanlyn aansoeke na 20 Mei 2019 gaan uitstel om regstellings aan die aanlynregistrasiestelsel te maak.

Dit kom nadat AfriForum en die SOS op 5 Mei 2019 kragte saamgespan het en ’n dringende prokureursbrief aan die Gautengse departement van onderwys gestuur rakende die gebreke van die aanlynskoleregistrasieplatform. Dié platform sou op 13 Mei 2019 vir 2020 se leerderregistrasies open.

“AfriForum beskou hierdie nuus as ’n reuseoorwinning. Ons verwelkom ook die onderwysdepartement se besluit om die proses uit te stel en probleme met die stelsel reg te maak,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
“Ons verwelkom die departement se besluit om ruimte te skep deur die proses uit te stel om probleme met die stelsel reg te stel,” sê Melanie Buys, hoof van stelsels by SOS.

Albei organisasies is bekommerd oor die manier waarop die aanlynskoleregistrasieplatform opgestel is: Volgens die departement en proeflopiestelsel maak dit glad nie voorsiening daarvoor dat ouers self kan besluit watter skool hul eerste keuse vir hul kinders is nie. Die skool wat geografies die naaste aan die ouers se woonadres geleë is, word ongeag die skool se taalmedium van onderrig, vakaanbod of selfs koshuisopsies bloot as primêre keuse aangebied.
Met dié dringende prokureursbrief het AfriForum en SOS gevra dat die stelsel aangepas of die proses uitgestel word tot die stelsel hersien kan word sodat ouers wel op grond van hierdie aspekte ’n keuse kan uitoefen.
Verder voel albei organisasies sterk daaroor dat leerders wat vanjaar reeds vir gr. R by ’n laerskool geregistreer is voorkeur moet geniet vir gr. 1-plasing in dieselfde laerskool in 2020.

Soortgelyke plasings