Aanlyn skoolregistrasiestelsel in Gauteng kies skool namens ouers


Die burgerregtewaghond AfriForum is bekommerd oor die manier waarop die Gautengse aanlyn skoolregistrasiestelsel aangepas is vir die 2020-skooljaar en sal regstappe neem indien dit kinders se regte skend. Hierdie is die vyfde jaar waar ouers van hierdie aanlyn stelsel gebruik moet maak om hul kinders vir graad 1 of graad 8 vir die daaropvolgende skooljaar te registreer.

Die aanlyn registrasiestelsel maak weer eens nie voorsiening vir taalkeuse tydens registrasie nie. Hoewel jy jou keuse van onderrigtaal op die stelsel kan insleutel, speel dit geen rol by die plasing van kinders nie. Vanjaar sal die stelsel ook outomaties die naaste skool aan ouers se huisadres identifiseer en ouers het dan geen ander keuse as om dié spesifieke skool as hul eerste keuse te aanvaar nie.
Volgens Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, is die stelsel só ontwerp dat alle skole toeganklik vir alle kinders moet wees – ongeag klas, ras of taal – en dat daar weggedoen moet word met die sogenaamde stigma van apartheid waar sekere skole net vir sekere kinders toeganklik is. Hy beweer ook dat skole voortaan almal op dieselfde standaard gestel sal word, sodat ouers nie meer kieskeurig hoef te wees oor skole in informele nedersettings teenoor stadskole nie.

“AfriForum se beswaar teen hierdie veranderinge is dat ouers se taalkeuse vir onderrig nie by die plasing uitgesluit moet word nie. Skole is lankal vir alle leerders toeganklik – ras speel vir jare al nie meer ’n rol by toelatings nie. AfriForum meen ook die reg tot moedertaalonderrig moet vir alle moedertaalsprekers in die provinsie beskerm word, en verder dat die departement nie reg in eie hande kan neem en namens ouers besluit waar hul kinders moet skoolgaan nie,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
“AfriForum kan nie toelaat dat Lesufi se politieke agenda ouers van hul regte ontneem om hul kinders na die skool van hul keuse te stuur nie. Lesufi se fokus is beslis nie op kwaliteitonderrig gemik nie. Hy dwing ’n ideologies gedrewe transformasiemodel af wat Engels as onderrigtaal bevorder en ouerbeheerliggame se regte ondergrawe, ongeag of kinders se onderrig daaronder gaan ly,” voeg Bloem by.

Die Gautengse aanlyn skoolregistrasies open op 13 Mei 2019 om 08:00
Ouers word aangemoedig om op dieselfde dag nog te registreer, aangesien die werklike tyd van jou registrasie ’n rol in die plasing van jou kind gaan speel.
Die volgende dokumentasie is nodig vir registrasie en moet ook verkieslik op dieselfde dag ingehandig word by die skole waar jou kind geregistreer is:

  • Kopie van ouers se identiteitsdokumente;
  • Bewys van huis- of werksadres;
  • Kind se immuniseringskaart en geboortesertifikaat; en
  • Jongste rapport.

Ouers moet ook skermskote van die registrasieproses neem, ’n kopie aan die skool gee en ook self ’n kopie hou om oor die registrasieproses op te volg, indien nodig.
Ouers het vyf keuses waarvolgens hulle hul kinders kan registreer, maar die eerste keuse (skool naaste aan jou huis) word deur die stelsel self bepaal.
Die ander keuses word bepaal deur:

  • Sibbe in die skool;
  • Ouers se werksadresse;
  • Skool binne ’n 30 km-radius vanaf ouerhuis; en
  • Skool buite ’n 30 km-radius vanaf ouerhuis.

Ouers is welkom om intussen ’n toetslopie op die stelsel by www.gdeadmissions.gov.za te doen om solank te bepaal waar die stelsel jou kind as eerste keuse plaas.
Plasings geskied vanaf 27 Augustus 2019 tot 20 September 2019.
Ouers kan AfriForum direk by onderwys@afriforum.co.za e-pos vir enige verdere inligting.

Soortgelyke plasings