70 plaasmoorde sedert 1 Januarie: AfriForum begin burgerlike mosie van wantroue in Fikile Mbalula

 

Oor die afgelope vyf dae het 11 plaasaanvalle in Suid-Afrika plaasgevind, wat tot die dood van vier persone gelei het. Sedert 1 Januarie 2017 is ten minste 341 plaasaanvalle reeds uitgevoer, waartydens 70 mense vermoor is. Dit beteken dat daar tot dusver in 2017 reeds meer moorde tydens plaasaanvalle gepleeg is as die totale aantal plaasmoorde gedurende 2016.
In die lig hiervan het AfriForum vandag ’n burgerlike mosie van wantroue teen Fikile Mbalula, die minister van polisie, van stapel gestuur. Die publiek kan hierdie mosie van wantroue ondersteun deur die webtuiste www.stopdiemoorde.co.za te besoek.

“Vanjaar is die sesde agtereenvolgende jaar waarin ons syfers ’n styging in plaasaanvalle en ‑moorde aandui,” sê Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum. “Sedert Mbalula se aanstelling as minister van polisie op 31 Maart 2017 het hy niks gedoen om landelike veiligheid op te knap nie. Sy traak-my-nieagtige houding is ook duidelik sigbaar in die styging wat ons vanjaar in plaasmoorde sien.” Roets sê dat Mbalula se eerste prioriteit sy eie beeld is, eerder as die veiligheid van inwoners van die land.
Lorraine Claasen, navorser by AfriForum Navorsingsinstituut (ANI), het ook tydens die konferensie gepraat. “Ek besef dat die werk wat die minister van polisie moet doen ’n moeilike en uitdagende werk is, maar ek weet nie hoe minister Mbalula in die aande slaap nie. Hy moet ophou om uit sy glashuis klippe te gooi, want Suid-Afrika is aan die brand en die tyd vir praat is verby – lankal reeds. Niks verander nie: net leë beloftes word gegee en weer en weer herhaal, maar die politieke wil en ingryping deur die regering ontbreek totaal en al. Politici praat graag van die ‘probleem van plaasaanvalle’. Dit is nie ’n probleem nie; dit is ’n ramp,” sê Claasen.

Kyle Stols (21) was die voorman op ’n wildsplaas in Jagersfontein toe hy Sondag vermoor is. Joubert Conradie (47), ’n boer naby die Klapmuts-omgewing buite Stellenbosch, is gisteroggend tydens ’n plaasaanval vermoor.
Gawie Stols, Kyle se broer, het vandag AfriForum se mediakonferensie in Centurion bygewoon om te vertel hoe die familie en gemeenskap deur Kyle se moord geraak is.

“In die verlede sou ek gekyk het na ’n berig oor ’n plaasaanval in die koerant en gedink het dit is erg, en dan die koerant eenkant geskuif het. Maar dié week was dit mý broer, Kyle, se moord op die voorblad. Hy was maar 21 jaar oud,” het Stols tydens die konferensie gesê. Hy het gepleit dat mense meer sal omgee en kyk hoe elkeen van ons betrokke kan raak. Hy het gevra dat mense sal besef dat dit ons almal raak. “Dit is net ’n kwessie van tyd voor dit jou familielid of jou vriend op daai koerant gaan wees. My broer is dalk net nóg ’n syfer, net nóg ’n slagoffer, maar hy’t iets vir my beteken.”

Soortgelyke plasings