500 liter water op Menseregtedag aan ouetehuise voorsien


Lede van AfriForum se Tzaneen-tak het op Menseregtedag, 21 Maart 2019, 500 liter water aan die El-Natan, Goue Jare en God’s Haven ouetehuise geskenk vir bejaardes wat dié vakansiedag sonder water moes deurbring. Die aksie het die dag voor Wêreldwaterdag – met die tema “Leaving no one behind”, en waaraan Suid-Afrika ook deelneem – plaasgevind.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Soutpansberg, is die tekort aan lopende water veroorsaak deur beurtkrag wat waterpompe buite werking gelaat het.

“Almal het die reg tot skoon, lopende water. Dit is ’n skande dat plaaslike owerhede nie eens ’n basiese grondwetlike reg aan inwoners kan voorsien nie. Dit is ons plig as gemeenskap om op hierdie regte aan te dring, veral as dit weerbare mense soos senior burgers raak.”

Grobbelaar het ook sy misnoeë uitgespreek dat ’n dag wat mense se regte moes vier, eintlik regte ontneem het.

“Dit is kommerwekkend dat ’n land wat deel van inisiatiewe soos Wêreldwaterdag en Menseregtedag vorm, nie eens ’n eenvoudige basiese reg soos lopende water kan voorsien nie. As burgerregte-organisasie sal ons aanhou om soortgelyke aksies aan te pak om die druk op gemeenskappe te help verlig. AfriForum sal intree waar regeringsinstellings hul daadwerklike pligte versuim.”

Verder het Grobbelaar ook bygevoeg dat dié aksie ’n uitstekende voorbeeld is van hoe gemeenskappe mekaar in tye van nood kan help en bystaan.

“Tzaneen se gemeenskappe moet hande vat en saam staan – hoe meer mense betrokke raak, hoe groter die impak en verskil wat ons in ons dorp kan maak.”

SMS “Tzaneen” na 45340 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings