Rassekwotas sluit o. 12-atleet uit span – AfriForum Jeug staan by


AfriForum Jeug staan tans ’n o. 12-atleet uit die Oos-Kaap by nadat dié skolier nie in die Oostelike Provinsie Atletiekspan vir die komende naweek se nasionale byeenkoms in Germiston ingesluit is nie. Die betrokke atleet het tweede in sy item geëindig, maar is op die spanlys vervang met ’n swart atleet wat tydens die kwalifiserende byeenkoms ’n 4de plek behaal het. AfriForum Jeug se regspan het Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (SASA), asook Oostelike Provinsie Atletiek tot die einde van die dag (12 Maart 2019) gegee om die o. 12‑atleet by die span in te sluit.

“Dié blatante vorm van diskriminasie is onaanvaarbaar en skend die waardigheid van jong laerskoolkinders wat gebore is lank ná apartheid afgeskaf is. Indien dié atleet nie in die span ingesluit word nie, sal ons die hof op ’n dringende basis nader om die atleet wel in die span te kry. Oostelike Provinsie Atletiek tree direk teen die opdrag van SASA op. Die Oostelike Provinsie-skoleatletiekspan is nie eers ten volle gevul nie – slegs 121 atlete verskyn op die spanlys, terwyl daar plek voorsien is vir 140 atlete,” sê Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug.

Hierdie ernstige rassediskriminasie kom selfs nadat AfriForum Jeug die aankondiging vanaf SASA verwelkom het waarin dié liggaam provinsies verbied het om nie meer die strenger rassekwotabeleid, soos gekommunikeer in Februarie, toe te pas nie. SASA het gepoog om strenger transformasieteikens in skoleatletiek af te dwing, maar het dié besluit omgekeer ná druk vanaf AfriForum Jeug.

“Dit wil voorkom asof al die provinsies – buiten Oostelike Provinsie Atletiek – aan SASA se nuutste skrywe, om nie die strenger transformasieteikens te implementeer nie, voldoen,” sê Maree.

Hierdie aksie vorm deel van AfriForum en Solidariteit se veldtog teen kwotas in sport. Die publiek kan dié veldtog steun deur die woord “Kwotas” na 32687 (R1) te SMS.

Soortgelyke plasings