| | |

45% van ondernemings oorweeg afleggings; inperking moet gestaak word om maatskaplike ramp te keer

Altesaam 45% van ondernemings oorweeg om hul werkers binne die volgende drie maande af te lê weens die gevolge van die nasionale inperking. Boonop dui 24% aan dat afleggings reeds plaasgevind het. Dít is van die mees opspraakwekkende bevindinge van ’n telefoniese peiling wat die AfriForum Navorsingsinstituut in die laaste week van April en die eerste twee weke van Mei onder ondernemings op AfriForum Netwerk gedoen het.

Die bevindinge van dié peiling bevestig dat die nasionale inperking ernstige finansiële gevolge vir sake-eienaars veroorsaak. 92% van respondente het aangedui dat hulle finansiële verliese voorsien, terwyl 50% van hierdie 92% aangedui het hulle is die enigste broodwinner in hul huisgesin. Beloftes van ondersteuning deur die regering realiseer nie. 28% van respondente het aangedui hulle is op die regering se webtuiste vir finansiële bystand geregistreer, maar tot op hede het hulle geen terugvoer ontvang nie. Slegs 3% van die respondente het amptelike terugvoer ontvang.

AfriForum is tans besig met ’n petisie om druk op die regering te plaas vir die uitbetaling van staatshulp (byvoorbeeld van die WVF). Die petisie is hier beskikbaar.

Ongeveer 45% van respondente het aangevoer dat hul primêre onderneming nie aanlyn bedryf kan word nie, terwyl slegs 9% aangedui het dat hul onderneming ten volle aanlyn bedryf kan word. 22% van respondente het aangedui hul onderneming kan gedeeltelik aanlyn bedryf word.

“Die bevindinge van dié peiling wys duidelik dat die landwye inperking ingrypende gevolge vir ondernemings inhou. Die inperking moet dringend opgehef word sodat ondernemings werksaamhede kan hervat en ’n maatskaplike ramp afgeweer kan word,” sê Barend Uys, hoof van Navorsing en Ontwikkeling by AfriForum.

“Ons wil sakeondernemings aanmoedig om juis in hierdie uitdagende tyd deel te word van AfriForum Netwerk. AfriForum Netwerk is reeds 12 000 ondernemings sterk en gaan steeds van krag tot krag. Ons hoop dat die toepaslike inligting, wat ons weekliks per nuusbrief aan netwerkondernemings stuur, kan help met die uitdagings wat ondernemings tans in die gesig staar,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Netwerk.

AfriForum Netwerk is ’n landwye netwerk waar verbruikers en entrepreneurs mekaar kan opspoor, aanspoor en ondersteun. Besoek gerus www.afriforumnetwerk.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings