Spyskaart +

Moedertaalonderrig: ’n psigolinguistiese oogpunt

Februarie 16, 2017 deur Annelise

(’n Caviat: hierdie artikel behoort nie as ’n akademiese artikel benader te word nie, maar ’n vereenvoudiging van ingewikkelde psigolinguistiese modelle en terme om die waarde van moedertaalonderrig vanuit ’n psigolinguistiese oogpunt te verduidelik.)

Daar word gedurig aangevoer dat moedertaalonderrig die wêreld oor as die beste onderrigpraktyk beskou word. Een van die grootste redes wat hiervoor aangevoer word, is dat moeilike konsepte en abstrakte strukture eers via die moedertaal bemeester word, waarna dit dan op die tweede taal toegepas word. Maar waarop word hierdie denkwyses gebaseer? Steek daar enige waarheid hierin? Psigolinguisties gesproke, ja.

Deur die jare heen is verskeie modelle voorgehou om die organisering van die mentale leksikon van die tweetalige persoon te beskryf. Die brein se woordeboek (die psigolinguiste noem dit die mentale leksikon) is die “plek” waar die woorde gestoor word wat ons ken en elke dag gebruik. Modelle van die mentale leksikon probeer dus verduidelik hoe hierdie inligting gerangskik word sodat mens dit weer kan bereik.

Die meeste psigolinguiste is dit eens dat dié leksikon ten minste twee aspekte van woorde bevat: die woordvorm (wat die spelling, uitspraak en ander eienskappe van die woord self insluit) en die konsepvorm (die “prentjie” van wat die woord is, dus die betekenis daarvan). Dié twee aspekte is uiteraard aan mekaar verbind sodat ons weet wat die woord is, hoe om dit te gebruik, hoe dit klink, hoe dit geskryf word en wat dit beteken, om maar ’n paar te noem. Die inligting wat hier gestoor word, word van jou vroegste jare opgebou soos wat ’n mens nuwe woorde, begrippe en dinge leer ken. Wanneer jy byvoorbeeld die woord “leeu” wil sê, gebruik jy eers die konsepvorm (wát jy wil sê) om die woordvorm te bereik (hóé jy dit wil sê). Andersom: as jy die woord “leeu” lees, gebruik jy eers die woordvorm (wat daar staan) om te bepaal wat dit beteken (die konsepvorm).

(Hier moet ek ook eers iets anders verduidelik: mens het net een konsepvorm van iets en nie een vir elke taal nie, omdat die konsep nie aan taal gekoppel is nie. Die konsepvorm van “leeu” word dus deur die Afrikaanse en Engelse woordvorme daarvan gedeel.)

Wanneer ’n mens ’n tweede taal aanleer, word die organisering van jou mentale leksikon met die nuwe inligting aangevul. Omdat jy nog nie alles van die nuwe taal weet nie, is dit onmoontlik om dié taal onafhanklik van jou eerste taal te gebruik. Kom ek gee ’n voorbeeld: Baie mense wat Afrikaanse eerstetaalsprekers is, vertel dat, wanneer hulle iets in byvoorbeeld Engels wil sê, hulle dit eers in hul breine in Afrikaans formuleer en dan vertaal voordat hulle dit uiteindelik hardop sê. Die rede hiervoor is eenvoudig: Wanneer ’n mens ’n tweede taal nog nie bemeester het nie, gebruik jy inderdaad jou eerste taal se woord- of konsepvorm om die woord in die tweede taal te verstaan of gebruik. Wanneer jy byvoorbeeld ’n leeu sien en jy dit aan ’n Engelse persoon wil uitwys, begin jy by die konsepvorm, gaan daarna na die woordvorm in jou eerste taal, en dan eers na die woordvorm in jou tweede taal. Die proses word in figuur 1 uitgebeeld. Andersom: as jy die woord “lion” lees, vertaal jy dit eers in jou kop, dit wil sê jy beweeg van die woordvorm “lion” na die woordvorm “leeu”, waarna jy die konsepvorm bereik om betekenis te gee aan dit wat jy lees.

Figuur 1

Hoe meer mens die tweede taal gebruik, hoe minder gebeur dit dat jy die woorde vanuit jou tweede taal na jou eerste taal hoef te vertaal om dit te verstaan. Hoe meer vertroud jy raak met die woord “lion” hoe minder gaan jy eers die Afrikaanse woord “leeu” hoef te gebruik om die woord te verstaan. Wat gebeur, is dat jy nou begin om direkte skakels tussen die woorde in jou tweede taal en die konsepvorm daarvan te vorm. Figuur 2 toon dié verandering aan: die skakel tussen die konsep en die Engelse woordvorm is nou meer permanent en hoef nie via die Afrikaanse woordvorm te gebeur nie.

Figuur 2

Figuur 2

Dié proses vind uiteraard nie slegs op woordvlak plaas nie, maar ook in hoër tekstuele kontekste soos sinne, paragrawe en hoofstukke.

As mens die bogenoemde prosesse goed verstaan, maak dit sin om moeilike, abstrakte konsepte eers via jou eerste taal onder die knie te kry voordat jy dit in ’n tweede taal begin aanpak. Om dus moeilike wetenskaplike en wiskundige konsepte onder die knie te kry, maak dit dus sin om dié abstrakte konsepte eers in jou moedertaal te bestudeer. En waar leer mens die meeste van dié abstrakte begrippe en konsepte? Tydens jou laerskool-, hoërskool- en universiteitsloopbaan – juis dáár waar moedertaalonderrig in die spervuur is.

Wat gebeur as jy gedwing word om die abstrakte konsepte in jou tweede taal onder die knie te kry? Hoewel dit nie onmoontlik is nie, is die proses net soveel langer omdat jy in elk geval gedwing gaan word om dié konsepte eers via jou eerste taal te akkommodeer. En as jy die onderwyser of dosent om ’n verduideliking vra, gaan dié verduideliking óók in die tweede taal gegee word – en die dupliseringsmetode word verder gedupliseer.

Wat leer jy uit dié artikel? Moedertaalonderrig as internasionaal erkende bestepraktykonderigmetode word deur psigolinguistiese navorsing ondersteun.

(Hierdie artikel is gebaseer op Kroll & Stewart (1994) se hersiene hiërargiese model om die aktivering van die tweetalige mentale leksikon te beskryf.)

George is tans besig met ’n meestersgraad in toegepaste linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg.