--> -->
Spyskaart +

3 redes waarom minderhede nie welkom is nie

Junie 19, 2013 deur Charl Oberholzer

Jeugdagvieringe, soos die meeste ander openbare vakansiedae, gaan dikwels gepaard met groot openbare byeenkomste, maar die regering se feeste word nie deur wit jongmense ondersteun nie. Hoekom nie? Die volgende 3 redes kan aangevoer word:

  1. Die ANC kaap Suid-Afrikaanse vakansiedae

    Daar is geen duidelike onderskeid tussen ‘n geleentheid wat deur die ANC en ‘n geleentheid wat deur die regering gereël word nie. Openbare vieringe soos Jeugdag is eerder ‘n viering van die ANC se politieke doelwitte as die viering van die diverse groep jongmense waaruit SA bestaan. Die opposisie se menings word geensins geduld by sulke geleenthede nie, soos al bewys is op die wyse waarop Helen Zille en Patricia de Lille uitgejou is wanneer hulle wel geleentheid kry om deel te wees van sulke geleenthede. Minister Lulu Xingwana het ook haar onverdraagsaamheid teenoor minderhede in die openbaar gelug toe sy gesê het dat wit Calvinistiese mans glo dis hulle reg om vroue aan te rand.

  2. Daar is niks vir wit jongmense om te vier nie

    Hoekom sal ‘n jong wit persoon in elk geval ‘n viering van die regering wil bywoon? Om te vier dat hy/sy nooit ‘n kadet kan wees vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nie? Of dat hulle nie in aanmerking sal kom vir ‘n staatsbeurs of by Woolworths aangestel sal word nie aangesien geleenthede op grond van ras uitgedeel word? In sy wese het die regering ten doel om minderhede te onderdruk. En talle minderheidsgroepe vaar steeds goed in SA, ongeag diskriminerende rasbeleide. Maar dit beteken nie dat hulle nie daarvan bewus is dat die regering hulle menswaardigheid ondermyn nie.

  3. Jeugdagvieringe is een dimensioneel

    SA is een van die mees diverse lande ter wêreld maar steeds het die regering net een verhaal van jongmense om te vertel, naamlik die Soweto-opstande van 1976. Ja, ons moet dit herdenk en daaruit leer, maar dan moet ons alle jeugslagoffers deur die geskiedenis heen ook gedenk. Een voorbeeld sou wees om die 27610 jongmense te herdenk wat in konsentrasiekampe oorlede is – die gevolg van die Britse regering se besluit op 16 Junie 1900 om die sg. “Verskroeide Aarde”-beleid te aanvaar.

Jeugdag is nie net ʼn dag om te vier nie maar ook om met ‘n vergrootglas te kyk na die uitdagings wat ons as jongmense almal saam moet oorkom, byvoorbeeld werkloosheid en swak gehalte onderwys. Ons kan hierdie Jeugdag anders benader deur nie net te kla en ‘n “dis-my-reg”-mentaliteit aan te moedig nie maar ‘n “doen-dit-self”-aanslag te bevorder, waar ons self die verskil maak wat ons wil sien. Daarom het AfriForum Jeug op Jeugdag ‘n beursfonds vir weeskinders gestig om op ‘n direkte wyse terug te ploeg in onderwys en opleiding vir jongmense. Jy hoef nie ‘n viering by te woon wat jou menswaardigheid wil wegneem net om deel te wees van die oplossing nie, jy kan skouer aan die wiel sit om ‘n konstruktiewe verskil te maak, ongeag jou velkleur.