|

2020-skoleplasings: AfriForum staan skole en ouers by

AfriForum beskryf die 2020-skoleplasingsproses as chaoties en ’n burokratiese kleitrappery. Die organisasie word die laaste twee weke oorval met klagtes van ouers wat steeds nie SMS-kennisgewings ontvang het met ’n aanbod vir die plasing van hul kinders in skole vir die 2020-skooljaar nie. Ouers is ongelukkig en gelyktydig gespanne oor die proses wat so lank neem en uitgerek word. Dit skep onsekerheid by ouers en leerders.

Skole stoei ook al geruime tyd om hul plasingslyste te laat klop met die Gautengse departement van onderwys (GDO) s’n, aangesien talle skole lyste van die departement ontvang het wat totaal van hul lyste verskil. AfriForum het reeds verskeie skole in dié verband bygestaan.

Sowel die aanlynregistrasiestelsel as die plasingsproses het talle probleme veroorsaak wat AfriForum al in Mei voorsien het en waaroor die organisasie die GDO tóé reeds genader het. Die waarskuwings het egter op dowe ore bly val en nou vra Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, en die departement deurentyd om verskoning oor die foute, eerder as om te erken dat die stelsel ’n mislukking is en skole toe te laat om self hul plasings te hanteer soos in die verlede.

Die GDO het Maandagmiddag tydens ’n noodmediakonferensie aangekondig dat die plasingsproses verder verleng word tot 30 November 2019.

Ouers wat tot op hede nog nie plasingsboodskappe ontvang het nie, behoort binne die volgende maand kennis te kry van waar hul kind geplaas is.

Plasings het volgens die GDO op die volgende manier geskied:
* Leerders is eerste in die skool naaste aan hul huisadres geplaas.
* Indien ’n skool steeds plek beskikbaar gehad het, is kinders met sibbe in die skool, daar geplaas.
* Daarna is kinders geplaas wie se ouers se werksadres die naaste aan ’n skool is.
* Dan is kinders geplaas wat binne ’n 30 km-radius van die skool af bly.
* Laastens is kinders wat buite ’n 30 km-radius van die skool bly, geplaas.

Gestel ouers het dus aansoek gedoen by Laerskool X, is al die kinders wat die naaste aan Laerskool X is eerste geplaas. Indien Laerskool X nog plek oorgehad het, is kinders met ’n broer of suster wat reeds in die skool is, daar geplaas. Indien Laerskool X nog steeds plek gehad het, is kinders geplaas wie se ouers se werksadres die naaste aan die skool is, ensovoorts.

“Dit is baie onregverdig dat die skoleregistrasie- en plasingsproses ouers en leerders onder soveel spanning sit. Lesufi verkondig wyd dat sy stelsel foutloos is, maar eintlik het dit in vier jaar nog geen sukses opgelewer nie.”

“AfriForum sal aanhou om skole en beheerliggame by te staan in die stryd om die plasingsprobleme op te los voor die aanvang van die 2020-skooljaar,” sê Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by AfriForum. Maniere waarop soortgelyke chaos met die 2021-plasings verhoed kan word, word ook ondersoek.

Die GDO versoek ouers om die volgende kanale te gebruik om hul probleme ten opsigte van die plasingsproses aan te meld:

  1. ’n Appèlvorm moet afgelaai word by gdeadmissions.gov.za, ingevul en teruggestuur word na admissions.Hotline.@gauteng.gov.za.
  2. Verder kan ouers die belsentrum skakel by 0800 000 789 of ’n e-pos stuur aan gdeinfo@gauteng.gov.za of hul naaste distrikskantoor besoek.

“AfriForum moedig ouers aan om deurgaans met die skool van hul keuse te kommunikeer en seker te maak hul kind(ers) is wel op die skool se plasingslys, al het hulle nog nie ’n SMS-kennisgewing gekry nie,” sê Bloem.

AfriForum wil ook inligting bekom oor gevalle waar die GDO versuim om ouers met hul probleme by te staan: stuur ’n e-pos na onderwys@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings