|

2018 was traumatiese en hartverskeurende jaar vir boere

As die vlak van aanvalle en moorde op boere moet voortgaan teen die huidige tempo, gaan Desembermaand in ’n bloedbad ontaard.

Só sê Ian Cameron, AfriForum se nasionale hoof van gemeenskapsveiligheid, na aanleiding van die 402 plaasaanvalle en 51 plaasmoorde wat sedert die begin van die jaar in die land plaasgevind het.

“In die eerste week van Desember 2018 was daar reeds meer aanvalle as in die hele Desember verlede jaar. Gemeenskappe moet baie meer paraat wees en inskakel by hulle gemeenskapsveiligheidstrukture. Ons moet eenvoudig pro-aktief optree en terugbaklei,” meen hy.

Sowat 13 plaasaanvalle en een plaasmoord is reeds vir Desember opgeteken.

Op 3 Desember is ’n bruid en groep bruilofsgaste deur vyf rowers op ’n Bolandse spogplaas aangehou en van onder meer juwele, rekenaars en selfone beroof.

Cameron het op Twitter gesê die bruid en vriende is die aand voor die troue aangeval deur mans wat maskers gedra het. Volgens hom het die aanvallers te voet gevlug. Die polisie ondersoek die voorval.

Jan Terburgh (81) is ook op 3 Desember aangerand in sy huis op die plaas Alfalfa naby Burgersdorp in die Oos-Kaap. Minstens drie aanvallers het omstreeks 11:00 op die plaas toegeslaan en die huishulp en twee tuiniers in die badkamer van die plaashuis vasgebind. Die aanvallers het ʼn handdoek oor Terburgh se kop gegooi en vuurwarm water oor hom uitgegiet. Nadat hulle hom gedwing het om die kluis oop te sluit, het hulle hom in die gesig en oor sy lyf geslaan. Hy is toe vasgemaak en in die gang gelos. Die aanvallers het die huis geplunder en verskeie items, insluitend ʼn vuurwapen en ammunisie, geroof. Hulle het daarna in Terburgh se wit Isuzu-bakkie op die vlug geslaan.

Die polisie het twee verdagtes kort ná die aanval in hegtenis geneem, van wie een in ʼn skietery met beamptes gewond is. Terburgh is tans in die waakeenheid in ’n Bloemfonteinse hospitaal.

ʼn Bejaarde boer en sy suster is op 5 Desember in hul plaashuis in die omgewing van die dorpie Addo, sowat 50 km noord van Port Elizabeth, oorval en beroof. Lennox Wells (86) het in sy kamer gelê en slaap toe hy wakker gemaak is deur drie mans, van wie een ʼn vuurwapen by hom gehad het. Een het vir Wells ʼn hou teen die kop toegedien en vasgebind. Hulle het toe na sy 88-jarige suster se kamer gegaan en haar ook vasgebind, maar nie aangerand nie.

Die drie het kontant van Wells en sy suster geëis en hulle gedwing om die kluis oop te sluit, waaruit  ʼn .303- en ʼn haelgeweer gesteel is. Nadat hulle ook twee televisiestelle gebuit het, is hulle daar weg. Die polisie het ʼn wenk opgevolg en een van die verdagtes binne vyf ure by sy huis op Addo in hegtenis geneem. Die vermeende rower se twee medepligtiges verkeer nog op vrye voet, maar die polisie volg leidrade op.

*Daar is verskeie aanvalle waarvan AfriForum kennis dra, maar waarvan al die besonderhede nog nie bekend is nie.

4 Desember:

  • ’n Boer en sy seun is in Vryheid, KwaZulu-Natal, deur vier gewapende aanvallers aangeval. Die seun is in die rug en arm met ’n mes gesteek en die pa is oor die kop geslaan.
  • ’n Bejaarde dame in haar 70’s is in die Bloemspruit-area buite Bloemfontein aangeval op haar kleinhoewe. Sy was alleen tydens die aanval en is baie erg beseer. Haar kakebeen en wangbene is stukkend geslaan. Sy is ook tans in die waakeenheid in ’n Bloemfonteinse hospitaal.
  • ’n Man in die Bultfontein-area in die noorde van Pretoria het by sy kleinhoewe stilgehou toe aanvallers op hom begin skiet het. Hy het geen beserings opgedoen nie.
  • ’n Plaaswerker se kontant is gesteel en hy is in die arm geskiet deur drie gewapende mans by Honingnestkrans in die noorde van Pretoria.

5 Desember:

  • In Ermelo, Mpumalanga, het vyf gewapende verdagtes ’n groep mense op ’n plaas aangeval en vasgebind. Niemand is ernstig beseer tydens die aanval nie.
  • ’n Egpaar en hul werkers is deur vier gewapende aanvallers oorval in hul huis in Krokodilspruit in Kameeldrift, oos van Pretoria. Die vrou is met die kolf van ’n jaggeweer in die gesig geslaan en vier selfone is gesteel.

6 Desember:

  • Daar was ’n plaasaanval in Tuinplaas, Limpopo. Die Tuinplaas-polisie het die aanval bevestig, maar is steeds besig om dit te ondersoek.

Daar was na bewering ’n verdere drie aanvalle waarvan die inligting nog nie geverifieer is nie.

Benewens dié aanvalle was die oud-Springbok-haker, Naka Drotske, ook ’n slagoffer nadat hy tydens ’n plaasaanval op sy broer, Tinus, se kleinhoewe in Kameeldrift, oos van Pretoria, geskiet is. Drotske het by sy broer gekuier toe minstens drie onbekende aanvallers op 30 November omstreeks 22:00 toegang tot die huis gekry het. ’n Struweling het ontstaan en Drotske is drie keer geskiet.

Ian Cameron was verlede Vrydagoggend op die toneel waar die voorval gebeur het. Hy het aan die media gesê dat Drotske, Os du Randt, Tinus en Tinus se vriendin op die kleinhoewe gebraai het. “Hulle was net besig om al die deure toe te sluit vir die aand toe die aanvallers toegeslaan het.”

Naka is twee keer in die bolyf en een keer in die been geskiet en is in die waakeenheid van die Netcare Montana-hospitaal opgeneem. Niemand is al in hegtenis geneem nie. Sake van poging tot moord en roof word ondersoek. AfriForum het intussen beswaar gemaak oor die wyse waarop die ondersoek gedoen is.

John Byles (81), die boer wat in September op ʼn plaas naby Hartswater in die Noord-Kaap aangeval en met ʼn graaf aangerand is, is op Maandagoggend 3 Desember in ʼn hospitaal in Kimberley oorlede. Byles is na die aanval in September ontslaan, maar hy is sowat twee weke gelede weer opgeneem nadat hy in sy huis geval het. Hy het ’n noodoperasie ondergaan en was daarna in die waakeenheid.

AfriForum kry gereeld navrae van die publiek en sy lede oor wat die organisasie presies rondom plaasmoorde en veiligheid doen. Volg die skakel vir 35 wenke om jou plaas en eiendom te beveilig en doen alles in jou vermoë om in die komende feesgety paraat en op jou hoede te wees:  https://forumnuus.co.za/35-wenke-om-veilig-op-jou-plaas-te-wees/

Soortgelyke plasings