100 strafregtelik klagtes weens aanhitsing op sosiale media


AfriForum het  strafregtelike klagtes teen 100 persone gelê wat boodskappe van haatspraak, rassisme, aanhitsing tot geweld of ’n kombinasie hiervan op sosialemediaplatforms geplaas het. Die beëdigde verklarings is voorberei met die hulp van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die strafregkenner dr. Llewellyn Curlewis.

“Daar blyk ’n algemene indruk te wees dat wat mens ook al op sosiale media sê op die een of ander wyse aanvaarbaar is en geen gevolge dra nie. Openbare woede en mediadekking word ook grootliks gereserveer vir of beperk tot ’n paar uitgesoekte uitlatings op sosiale media. Ons het die publiek daarom uitgenooi om skermgrepe van haatspraak, rassisme en aanhitsing tot geweld aan ons te stuur. Die reaksie was oorweldigend,” sê Ernst Roets, AfriForum se adjunk uitvoerende hoof.

AfriForum het die SAPD versoek om hierdie 100 gevalle sonder verwyl te ondersoek, die identiteite van die persone agter dié sosialemediaprofiele te bevestig en elkeen van die toepaslike misdryf aan te kla. AfriForum het die SAPD ook versoek om gereelde terugvoer te verskaf en ook enige hulp aangebied wat die organisasie moontlik kan voorsien.

“Ons is bekommerd oor die hewigheid van sommige van die boodskappe en skermgrepe wat ons ontvang het. In teenstelling met die ander gevalle wat beduidende aandag in die media geniet het en meestal oor rassistiese aanmerkings handel, bevat ’n groot hoeveelheid van die skermgrepe wat ons ontvang het oproepe om wapens op te neem en versoeke om mense dood te maak of te beseer. Ons is bekommerd dat dié gevalle nie tot dieselfde mate hanteer of veroordeel word nie – hul ernstiger aard ten spyt,” sê Roets.

Voeg jou naam by die klag:

Soortgelyke plasings