|

10 dae oor om kommentaar in te dien teen wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering

Die burgerregteorganisasie AfriForum moedig die publiek aan om kommentaar teen die vernietigende wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV) in te dien. Die indieningstydperk vir kommentaar sluit op 11 Oktober 2019.

AfriForum het verlede maand sy kommentaar teen die NGV by die parlementsgebou ingedien. Die publiek kan egter steeds AfriForum se kommentaar aan die portefeuljekomitee vir gesondheid stuur deur na www.afriforum.co.za/afdelings/veldtogte/nasionale-gesondheidsversekering/ te gaan. Die komiteevoorsitter het ook onlangs bekend gemaak dat die openbare verhore oor die NGV in Mpumalanga en die Noord-Kaap onderskeidelik aan die einde van Oktober en begin November gaan plaasvind. AfriForum beoog om sowel hierdie verhore as al die ander by te woon.

Hoe meer mense kommentaar teen hierdie wetsontwerp indien en die openbare sittings bywoon, hoe beter is die kanse dat dit nié tot wet gepromulgeer word nie. “Indien dit wel gebeur, kan die gesondheidstelsel uiteindelik in duie stort, wat tot swak gesondheidsorg vir almal in die land sal lei,” sê Natasha Venter, woordvoerder vir die NGV by AfriForum.

Indien dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, hom werklik vir gehaltegesondheidsorg vir almal beywer, sal hy eerder op die regruk van die openbare gesondheidsorgstelsel fokus, asook op die deregulering van die privaat gesondheidsbedryf om monopolieë te verhoed. Dit sal daartoe lei dat privaat mediese sorg meer bekostigbaar word, wat ook druk op die sukkelende openbare gesondheidsorgstelsel sal verlig.

“Dr. Mkhize se grootste taak is egter om die korrupsie, wanbesteding en onverantwoordbaarheid van beamptes in die openbare gesondheidsorgstelsel te hanteer. Die Nasionale Vervolgingsgesag het byvoorbeeld onlangs aangekondig dat geen amptenaar vir die Life Esidemeni-tragedie vervolg gaan word nie. Wanneer skuldige mense nie aan die pen ry nie, dink al hoe meer staatsamptenare dat hulle bo die wet verhewe is en nie verantwoordbaar teenoor hul pasiënte hoef te wees nie,” sluit Venter af.

Lees NGV-verslag hier. 

Soortgelyke plasings