
21 November 2012, Kaapstad.
AfriForum gaan op Woensdag 21 November saam met Bobby van Jaarsveld en ander bekendes ʼn optog na die parlement hou om regeringsingryping teen geweldsmisdaad in Suid-Afrika te eis. Die parlement se Nasionale Vergadering sal op dié dag in sitting wees en sal ook deur AfriForum en die kunstenaars formeel gepetisioneer word.
Hierdie aksie sal ʼn opvolg wees op die Stap-teen-geweld-optog wat op 19 Junie na die Uniegebou in Pretoria onderneem is.
Die inisiatief is geneem in reaksie op die vlaag van geweldsmisdaad wat die land die afgelope paar jaar teister. Die doel is om ʼn duidelike boodskap aan die regering te stuur dat Suid-Afrikaners dit nie verder sal duld nie.
Volgens die sanger, Bobby van Jaarsveld, reis kunstenaars dwarsoor Suid-Afrika en hoor weekliks van mense wat hul geliefdes aan die dood afgestaan het in inbrake, motorkapings en gewapende rooftogte. Ander weer, was slagoffers van ander geweldsmisdade soos verkragting en aanranding.
“Hierdie slagoffers is ons ondersteuners en ons kan nie stil sit en toekyk hoe hulle daagliks uitgelewer is aan misdaadbendes wat besig is om mense se regte en vryhede te vertrap nie,” het Van Jaarsveld gesê.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat dié organisasie betrokke is by verskeie inisiatiewe om misdaad te bekamp, maar dat die krag van sigbare protesoptrede nooit onderskat moet word nie. “Ons het reeds na die setel van die uitvoerende gesag gestap. Nou gaan ons die wetgewende gesag nader.” AfriForum onderneem hierdie inisiatief in vennootskap met Van Jaarsveld en staan in vir die organisering van die geleentheid. Roets het bygevoeg dat daar na afloop van die Pretoria-staptog vroeër vanjaar verskeie versoeke vanuit die Kaap was om ʼn soortgelyke aksie daar te hou.
Alle Suid-Afrikaners word genooi om Woensdag 21 November om 9:00 by Keizergracht in Kaapstad saam met AfriForum en die kunstenaars bymekaar te kom. Vandaar sal na die parlement gestap word, waar die speaker van die parlement, mnr MV Sisulu, formeel gepetisioneer sal word. Deelnemers sal swart en wit klere dra: swart om te simboliseer dat hulle rou oor elke Suid-Afrikaner wat vermoor of deur geweldsmisdaad geraak is; en wit om te simboliseer dat daar in vrede vir vrede gestap word.
· ʼn Volledige lys van die kunstenaars wat aan die staptog sal deelneem, sal later bekend gemaak word.













