AfriForum loods veldtog teen ABSA se diskriminasie teen wit rugbyspelers
AfriForum het vandag ‘n omvattende veldtog teen ABSA begin, nadat dié bank amptelik by die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) aangedring het dat minder wit rugbyspelers in die Curriebeker-reeks moet speel. AfriForum se veldtog behels ‘n petisie teen ABSA wat afgelaai kan word, asook ‘n elektroniese veldtog wat per SMS, e-pos en op Facebook gevoer word. ‘n Facebook-blad, met die naam ‘Stop ABSA kwotas’ is ook reeds geskep.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, getuig ABSA se optrede van dubbele standaarde en diskriminasie. “ABSA het as spanborg van Bafana Bafana nie ‘n woord gerep toe dié sokkerspan met slegs swart spelers aan die FIFA-wêreldbeker deelgeneem het nie, maar wil nou as rugbyborg kom voorskryf hoe rugbyspanne saamgestel moet word,” het Kriel bygevoeg. Kriel het daarop gewys dat ABSA se optrede ‘n klap in die gesig van dié bank se wit kliënte is.
AfriForum gaan volgens Kriel ‘n gesprek met ABSA aanvra, waartydens die hantekeninge teen ABSA se optrede, wat nou met petisies ingesamel word, aan ABSA oorhandig sal word. Sou ABSA nie van sy diskriminasie teen wittes afsien nie, sal AfriForum volgens Kriel ‘n boikot-aksie teen ABSA loods. Die feit dat 34 450 minder mense vanjaar die voormalige Pretoria Skou bygewoon het na AfriForum se boikotaksie weens dié skou se besluit om sy naam na die Tshwane-skou te verander, het volgens Kriel gewys dat die publiek toenemend bereid is om hulle geld te laat praat vir dit wat reg is. “Indien ABSA nie hierdie saak regstel nie, sal die publiek ook hulle geld teen ABSA die praatwerk laat doen,” het Kriel gewaarsku.
Volgens Kriel word ABSA se diskriminasie teen wittes veral in ‘n ernstige lig gesien weens die feit dat die bank sy ontstaan te danke het aan wittes en Afrikaanssprekendes. “ABSA het eers sy rug op sy tradisionele kliëntebasis begin keer deur Afrikaans af te skaal en is nou selfs bereid om teen wittes te diskrimineer.
Kriel het herbevestig dat AfriForum ten gunste van sportontwikkeling in alle gemeenskappe is en het ‘n beroep op ABSA gedoen om eerder rugby-ontwikkeling verder te bevorder, as om streng rassekwotas af te dwing.
Petisie
Stop ABSA kwotas!
Hiermee versoek ek AfriForum om namens my beswaar aan te teken teen ABSA se besluit om amptelik by die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) aan te dring dat minder wit rugbyspelers in die Curriebeker-reeks moet speel.
ABSA se optrede getuig van dubbele standaarde, aangesien ABSA as spanborg van Bafana Bafana nie ʼn woord gerep het toe dié sokkerspan met slegs swart spelers aan die FIFA-wêreldbeker deelgeneem het nie, maar nou as rugbyborg wil kom voorskryf hoe rugbyspanne saamgestel moet word.
ABSA se diskriminasie teen wittes word veral in ʼn ernstige lig gesien weens die feit dat die bank sy ontstaan te danke het aan steun van wittes en Afrikaanssprekendes, maar ook Afrikaans toenemend afskaal.
Indien ABSA nie na ontvangs van hierdie petisie die saak regstel nie, versoek ek AfriForum om verdere optrede teen ABSA te neem. Met die ondertekening van hierdie petise, verleen ek toestemming dat AfriForum my kan kontak en oor die veldtog ingelig hou.












