Ons – die opstellers en ondersteuners van hierdie manifes – oefen die doelbewuste keuse uit om sinvol as Afrikaners voort te bestaan, met ons diepgewortelde basis is aan die suidpunt van Afrika. Ons ken geen ander tuiste nie.
Hierdie reg op sinvolle voortbestaan geld vir alle gemeenskappe en ons werk graag saam ter bereiking van ʼn beter toekoms vir almal.
In die uitoefening van hierdie keuse tot voortbestaan word ons deur die universele waardes van vryheid, gelykheid en geregtigheid vir almal besiel.
Juis daarom doen ons op ʼn demokratiese wyse voorspraak vir:
- die uitbouing en instandhouding van burger-, minderheids-, mense- en grondwetlike regte;
- die vestiging van selfstandige en selfrespekterende gemeenskappe;
- die bereiking van skikkings ter bevordering van vreedsame naasbestaan en verdraagsaamheid tussen gemeenskappe;
- die vestiging en koestering van wedersydse erkenning en respek; en
- die vind van ʼn balans tussen ekonomiese ontwikkeling, die omgewing en globalisering.
Derhalwe verklaar ons hiermee vir almal om te weet:
- dat Suid-Afrika behoort aan alle gemeenskappe en individue wat wettig daarin woon;
- dat geen regering die status van ʼn volwaardige demokrasie kan opeis, indien sodanige regering nie daarin kan of wil slaag om ʼn balans te tref tussen die regte en belange van die meerderheid en dié van minderheidsgemeenskappe nie; en
- dat geen morele regverdiging kan bestaan vir rasgedrewe beleidsrigtings wat enige groepering reduseer tot tweederangse burgers in hulle land van geboorte nie.
Ons aanvaar daarom hierdie burgerregtemanifes en verbind ons daartoe om geen steen onaangeroer te laat vir die realisering van die realistiese droom en toekomsvisie hieronder uiteengesit, tot voordeel van al die inwoners van Suid-Afrika nie.
Burgerregte vir almal!
Ons toekomsvisie vra geen spesiale behandeling vir enige gemeenskap nie, maar maak sterk aanspraak daarop dat die basiese burgerregte waaroor gemeenskappe en individue volgens internasionale deklarasies en die Suid-Afrikaanse Grondwet beskik, eerbiedig moet word.
In ons aandrang op burgerregte word ons geïnspireer deur die republikeinse tradisie, wat gebaseer is op die demokratiese deelname en instemming van die burgers, eerder as ʼn slaafse onderdanigheidsmentaliteit.
Verder neem ons met entoesiasme kennis van die mees onlangse ontwikkeling van die idee van menseregte wêreldwyd, ingevolge waarvan minderheidsregte as ‘n intrinsieke onderdeel van menseregte as sodanig beskou word, naas die klassieke individuele en sosiaal-ekonomiese regte wat in die agtiende en negentiende eeu ontwikkel het.
In ons voorspraak vir burgerregte plaas ons ten minste net soveel klem op die internasionaal erkende regte van nasionale minderhede as op individuele menseregte.
Ons verbind ons daartoe om die stand van burgerregte in Suid-Afrika voortdurend te monitor en op gepaste wyse op te tree wanneer sodanige regte geskend word.
Minderheidsregte vir alle nasionale minderhede!
Ons beroep ons op die internasionaal erkende beginsels rakende minderheidsregte, soos vervat in ʼn hele reeks internasionale konvensies en deklarasies. Hierdie beginsels is nie iets wat van ʼn owerheid se beleid of goedgunstigheid afhang nie, maar is regte wat wye internasionale erkenning geniet.
Aan die hand van hierdie konvensies en deklarasies sal ons sonder ophou werk vir onder meer:
- Gelyke regte en verpligtinge vir die algehele bevolking, met inbegrip van lede van minderheidsgemeenskappe;
- Inspraak en besluitnemingsbevoegdhede vir minderhede op alle regeringsvlakke ten opsigte van sake wat hulle direk raak. In ʼn ware demokrasie word minderhede nie op ʼn permanente grondslag uitgelewer aan besluitneming deur die meerderheid nie;
- Vrye deelname in ekonomiese bedrywighede deur lede van minderheidsgemeenskappe. Die staat mag nie beleidsrigtings instel wat minderhede op diskriminerende wyse van vrye ekonomiese deelname uitsluit nie;
- Moedertaalonderwys tot op die hoogste vlak, met inbegrip van die bestaan van enkelmediuminstellings. Geen staat mag onder die dekmantel van toegang, op die reg tot moedertaalonderwys inbreuk maak nie;
- Taalregte. Minderheidstale moet vrylik in die private en openbare domeine gebruik kan word;
- Die regte van minderhede om instellings en organisasies te bedryf. Geen staat mag onder die dekmantel van bevolkings-verteenwoordigendheid die bestaan van minderheidsinstellings onmoontlik maak nie;
- Die reg van minderhede, en ander burgers, om as eersteklas burgers welkom in hulle land van geboorte te voel. Geen regering kan passief toekyk hoe duisende burgers die land verlaat omdat hulle soos tweedeklas burgers voel nie;
- Vrye assosiasie. Assosiasie met ʼn nasionale minderheid is volledig vrywillig en geen persoon mag as gevolg van so ʼn keuse benadeel word nie;
- Godsdiensvryheid en die reg van gemeenskappe om hulle godsdiens ooreenkomstig hulle eie kulturele gebruike te beoefen;
- Vrye deelname deur minderhede aan die openbare lewe, sportspanne en ander aktiwiteite, op grond van meriete;
- Die reg van minderhede om, soos die res van die bevolking, billike voordeel te trek uit die belasting wat hulle betaal en inspraak in die aanwending daarvan te geniet;
- Die beginsel dat kwessies rakende nasionale minderhede sake van legitieme internasionale belang is en nie bloot huishoudelike aangeleenthede van die betrokke state nie.
Ons sal die staat voortdurend wys op sy verpligting om, ingevolge die internasionale deklarasies:
- Die kulturele, linguistiese en godsdienstige identiteit van nasionale minderhede te beskerm en te bevorder ten einde vriendskaplike betrekkinge tussen bevolkingsgroepe, vrede, demokrasie, geregtigheid en stabiliteit te bevorder;
- Omstandighede en meganismes te skep vir die doeltreffende betrokkenheid van nasionale minderhede in die openbare lewe en ekonomiese bedrywighede.
Grondwetlike regte moet in die praktyk realiseer!
Ons vereenselwig ons met die verklaring in die Aanhef tot die Grondwet van Suid-Afrika (1996), dat “… Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid”, asook die waardes en regte daarin vervat soos onder meer menswaardigheid, gelykheid, menseregte en vryhede.
- Eerstens besef ons die grondwetlike regte van burgers sal bloot papierregte bly indien die mooi simboliese gebare en uitsprake wat daaruit voortvloei, nie strook met die realiteite wat landsburgers, insluitend minderhede, daagliks beleef nie.
Die groeiende gaping tussen die mooi beloftes van die Grondwet en die regering en dit wat in die praktyk realiseer, word onder meer gevoed deur die feit dat grondwetlike regte buite die bereik van gewone landsburgers is, weens die hoë koste wat aan die afdwinging daarvan in die howe verbonde is.
Juis daarom verbind ons onsself daartoe om alles moontlik te doen om toe te sien dat die regte, soos in die Grondwet vervat, in praktyk realiseer, nagekom en uitgebou word. Ons sal enige poging teenstaan om die regte soos vervat in die grondwet te ondermyn en dit ondergeskik aan rasgedrewe politieke agendas, wat in die naam van transformasie uitgevoer word, te stel.
- Tweedens kom ons al hoe meer tot die gewaarwording in die praktyk, te midde van veranderde magsverhoudings en nuwe realiteite, dat die Grondwet bepaalde gebreke het ten opsigte van die regte en belange van minderhede in Suid-Afrika.
Ons staar ons nie blind teen bogenoemde gebreke nie en funksioneer binne die realiteit van ons bestaande omgewing. Derhalwe eis ons vir onsself en ander al die regte en verpligtinge in die Grondwet op. Ons sal onsself in besonder beywer vir die realisering van die volgende grondwetlike regte:
- die bevordering en beskerming van veeltaligheid [Artikel 6];
- die reg op gelykheid [Artikel 9]. Ons verwerp enige poging om in die naam van gelykheid, voor die voet individue en veral lede van minderheidsgemeenskappe te onderwerp aan ongelyke behandeling, aangesien kreatiewe metodes gevind kan word om gelykheid te bewerkstelling sonder die skepping van nuwe ongelykhede;
- die reg op die beskerming van menswaardigheid [Artikel 10]. Ons sal poog om almal se menswaardigheid te beskerm en sal onder meer teenstand bied teen die skending van menswaardigheid deur die praktyk van rasseklassifikasie deur die owerheid en ander instellings, waarvoor daar geen wetlike raamwerk bestaan nie;
- die reg op veiligheid [Artikel 12]. Ons eis dat geweldsmisdaad op plase, in landelike nedersettings, dorpe en stede deur die staat uitgeroei moet word;
- die reg op godsdiensvryheid [Artikel 15];
- die reg op vryheid van uitdrukking [Artikel 16];
- die reg op vryheid van assosiasie [Artikel 17];
- die reg op billike arbeidsverhoudinge [Artikel 23];
- regte rakende die beskerming van die omgewing [Artikel 24];
- eiendomsreg [Artikel 25];
- die reg op maatskaplike bystand aan kinders en individue [Artikel 27 & 28]. Ons beskou dit as oneties en ongrondwetlik om ras as maatstaf in die toedeling van maatskaplike subsidies te gebruik, veral in die lig daarvan dat armoede toenemend geen kleur ken nie;
- onderwys, insluitend die reg op onderwys in die amptelike taal van eie keuse en die reg op enkelmediumskole [Artikel 29];
- die reg van elke persoon om die taal van eie keuse te gebruik en aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem [Artikel 30];
- die regte van lede van kultuur-, godsdienstige- en taalgemeenskappe [Artikel 31];
- regverdige administratiewe optrede [Artikel 33];
- die afdwinging, via howe, van regte soos in die Handves van Regte vervat [Artikel 38];
- die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe [Artikel 185]. Ons sal ons daarvoor beywer dat hierdie Kommissie die doel waarvoor dit gestig is, dien en nie ontaard in ʼn voertuig wat ander agendas dien nie;
- die reg op selfbeskikking [Artikel 235].
Selfstandige en selfrespekterende gemeenskappe moet gevestig word!
In die gees van die republikeinse tradisie, glo ons in regering met beperkte en duidelik omskrewe magte, en in ‘n lewenskragtige en aktiewe burgerlike samelewing. Ons verwerp ʼn te groot burgerlike afhanklikheid van die staat en glo dat mense hulle eie toekoms met hulle eie kragte en inisiatief moet bou.
Juis daarom beywer ons ons vir die vestiging van selfstandige en selfrespekterende gemeenskappe as die boublokke vir ʼn suksesvolle Afrika.
Vreedsame naasbestaan en verdraagsaamheid moet deur skikkings bereik word!
Ons glo en word gedryf deur die oortuiging dat geen gemeenskap se voortbestaan en vooruitgang op die beoefening van onreg teenoor andere gebaseer kan word nie. Dit is ʼn resep vir polarisasie en onverdraagsaamheid.
Juis daarom beywer ons ons vir ʼn politieke bestel waar, te midde van veranderde magsverhoudings en nuwe realiteite, skikkings vir die botsende belange van gemeenskappe op ʼn voortdurende grondslag gesoek moet word.
Ons word besiel deur die feit dat dit wel moontlik is om in die gees van die soeke na wen-wen oplossings, ʼn formule te ontwikkel wat vreedsame naasbestaan en verdraagsaamheid tussen gemeenskappe sal bevorder.
Dit bekommer ons ten diepste dat die soeke na wen-wen oplossings tans nie bestaan nie en dat die meerderheid se belange tans ten koste van minderhede onder die dekmantel van demokrasie en transformasie bevorder word.
Wedersydse erkenning en respek moet gevestig en gekoester word!
Wen-wen oplossings kan bereik word indien daar wedersydse erkenning en respek tussen die meerderheid en minderheidsgemeenskappe bestaan.
Derhalwe beywer ons ons vir ‘n bestel waar die bestaan van verskeidenheid nie net erken word nie, maar ook gerespekteer word.
Die kriminalisering van ʼn gemeenskap se geskiedenis en die miskenning van plekname, monumente en museums wat sentraal in ʼn gemeenskap se erfenis staan, is ʼn daad van miskenning en disrespek.
Ewewig tussen ekonomiese ontwikkeling, die omgewing en globalisering moet gevind word!
Ons erken die materiële grondslag van ons eie en ander gemeenskappe se bestaan en besef dat burgerregte nie veel beteken vir mense wat nie kos het om te eet nie.
Juis daarom beywer ons ons vir ‘n nuwe vryemark ekonomiese denkraamwerk, een wat sowel die sosialisme as die markfundamentalisme verwerp. Die een se prys is onvryheid; die ander s’n honger en ellende.
Ons toon solidariteit met álmal wat honger ly en hulle kinders geen behoorlike bestaan en opvoeding kan gee nie en streef na ‘n bedeling wat ook op die ekonomiese terrein aan demokrasie en gelyke regte ‘n praktiese beslag kan bied.
Derhalwe spreek ons ons teen grootskaalse staatsinmenging in die ekonomie uit, maar is eweneens gekant teen die kultuur wat winsbejag tot alfa en omega in die private sektor verhef en waarvolgens die belange van werknemers en die omgewing blote teorie is.
Die toegang wat globalisering ons tot die res van die wêreld bied, word verwelkom. Ons is bewus daarvan dat dit tot stagnasie en ondergang sal lei indien ons sou poog om onsself van die res van die wêreld af te skerm. Tog weet ons dat ons gemeenskapselfstandigheid en plaaslike ekonomiese ontwikkeling broodnodig is om die negatiewe gevolge van globalisering te bekamp.
Ons beywer ons derhalwe daarvoor dat ʼn ewewig tussen ekonomiese ontwikkeling, die omgewing en globalisering gevind moet word.
‘n Oproep!
Almal word opgeroep om in die gees van vriendskap saam met ons na maniere te soek waarop ʼn balans tussen die regte en belange van die meerderheid en dié van minderhede gevind kan word.
Ons beskou hierdie Burgerregtemanifes en die aksies wat daaruit voortvloei, as ʼn noodsaaklike bydrae tot die skepping van ʼn grondslag vir vreedsame naasbestaan in die toekoms.












