Wat is AfriForum?
Laat jou stem hoor …
Met AfriForum-lidmaatskap sal jy direk daartoe bydra dat jou en jou gemeenskap se stem gehoor word in ‘n samelewing waar minderhede – soos Afrikaners en die Afrikaanse gemeenskap – toenemend geïgnoreer word. AfriForum bied juis ‘n Forum vir die konstruktiewe aktivering van minderhede tot deelname aan die openbare debat en aksies, om sodoende ‘n toekoms vir ons in Afrika te verseker.
… en trek self voordeel!
Met jou AfriForum-lidmaatskap help jy nie net jou gemeenskap nie, maar as byvoordeel groei jou beursie ook elke keer wanneer jy jou AfriForum-lidmaatskapkaart by enige van die honderde Infinity-vennote landswyd gebruik. Hoe meer jy bestee, hoe groter is jou beloning – in kontant!
Lidmaatskap is ‘n minimum van R30-00 per maand.
Waarom is AfriForum nodig?
Die probleem: Apatiese onttrekking
Minderhede oor die algemeen, en veral Afrikaners, het in ‘n
onttrekkingskringloop beland wat negatiewe gevolge inhou vir
die minderhede self, vir demokratiese beginsels en vir die land as geheel.

Die oplossing: Aktiewe deelname
AfriForum, ‘n onafhanklike inisiatief van die vakbond Solidariteit, is ‘n nie-winsgewende instelling wat daarna streef om hierdie onttrekkingskringloop uit die weg te ruim. Die proses spoor minderhede konstruktief tot deelname aan die openbare lewe en debat aan deur middel van:
- Veldtogte ter beskerming en uitbouing van burgerregte, soos vervat in die Suid-Afrikaanse Grondwet en internasionale konvensies rakende die kollektiewe regte van minderheidsgemeenskappe. Dit geld veral in ‘n omgewing waar basiese burgerregte en die Grondwet toenemend ondergeskik gestel word aan politieke ideologieë soos transformasie. Spesifieke knelpunte, byvoorbeeld die regering se toenemende rasbeheptheid, politieke inmenging in sport, rasgedrewe welsynsubsidies, veeltaligheid, misdaad en die soms ondeurdagte verandering van plekname, sal aandag geniet.
- Funksionele forums wat op verskeie lewensterreine tot stand gebring word, na gelang van spesifieke behoeftes en kwessies wat van tyd tot tyd in die samelewing ontstaan. Forums wat op die volgende sake fokus, is reeds gestig of word in die vooruitsig gestel: burgerregte, maatskaplike sake, toekomsvisie, migrasie (wat Solidariteit se Kom Huistoe-Veldtog insluit), belastingbetalers, misdaad, sport, bejaardes, jeug, vroue, ensovoorts.
- Die skep van ‘n toekomsvisie vir minderheidsgemeenskappe, gebou op selfrespek en selfstandigheid, wat as platform dien vanwaar minderheidsgemeenskappe hulle regmatige plek in die land kan volstaan en aan die hoofstroom openbare debat kan deelneem.
- Die bevordering van samewerking tussen burgerlike instellings. Veldtogte en forums wat op bepaalde doelwitte fokus, bied ‘n geleentheid aan bestaande burgerlike instellings en persone met uiteenlopende standpunte om saam te werk aan gemeenskaplike sake, sonder om afstand te doen van die sienings waaroor verskille mag bestaan. AfriForum sal ook administratiewe dienste aanbied aan bestaande organisasies wat dit verlang.
- Skakeling met die buiteland deur die Kom Huistoe-Veldtog (wat kundige Suid-Afrikaanse emigrante bystaan om terug te keer), nuusbriewe aan Suid-Afrikaners in die buiteland en kontak met buitelandse instansies ter bevordering van burgerregte wanneer nodig.
- Skakeling met die owerheid deur AfriForum se parlementêre skakelkantoor, sodat minderheidsgemeenskappe se stem gehoor kan word.













