Omgewingsake – Rioolwater in Apiesrivier: Tshwane-munisipaliteit het ses dae vir aksieplan

Riool in Apiesrivier

AfriForum het ʼn brief aan mnr. Jason Ngobeni, die bestuurder van die Tshwane-metroraad oorhandig wat hom versoek om binne 6 dae ʼn aksieplan op te stel oor hoe die probleem van rioolwater wat in die Apiesrivier noord van Pretoria, gestort word, opgelos gaan word.  Indien hy versuim om dit te doen, gaan AfriForum, saam met die gemeenskap, die Wêreldgesondheidorganisasie en die Blou Skerpioene se hulp inroep.  Die gemeenskap oorweeg ook om kriminele klagtes teen Ngobeni te lê, sou hy versuim om die probleem te hanteer.

Die Rooiwal-rioolaanleg pomp massas rioolwater in die Apiesrivier en ontwrig die lewens van boere en die gemeenskap van Hammanskraal en omliggende gebiede.  Daar is verskeie boere wat nie meer water vir besproeiing het nie.  AfriForum dring daarop aan dat die munisipaliteit dadelik moet intree en aan die gemeenskap skoon water voorsien vir huishoudelike gebruik en besproeiing.  Die gemeenskap se water moet getoets word en diegene wat gebruik maak van water in die omgewing moet in kennis gestel word van die gevare wat dit skep.

Ontstoke lede van die gemeenskap het onlangs die saak onder AfriForum se aandag gebring.  Die gemeenskap, waaronder kommersiële boere, is baie bekommerd oor hul gesondheid en ekonomiese voortbestaan.  Daar is boere wat hul oeste verloor en mense wat in die hospitaal lê weens die rioolprobleem.  Die Apiesrivier loop deur plattelandse en dorpsgebiede en word as waterbron vir ekonomiese, sosiale en omgewingsbedrywe gebruik.  Die water syfer verder deur in ondergrondse waterbronne, wat water aan huisgesinne vir huishoudelike gebruik voorsien.  Die moontlikheid moet ondersoek word om die area tot ʼn rampgebied te verklaar.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit