ʼn Dokument is vrygestel wat die omvangbepalingsverslag van die myngroep Sylvania Platinum Limited rakende die voorgestelde ontwikkeling van ʼn platinum-myn in die Nylrivier in Limpopo, teenstaan. Die Nylrivier is ʼn hoogs beskermde vleilandgebied. Dit is in ʼn Ramsar-gebied, dus vleilande wat van internasionale belang gereken word. Dit word ook as die grootste vloedvlaktevleiland in Suid-Afrika beskryf, wat ook tot dusver die minste menslike impak ervaar. Dit is dus van kardinale belang dat dit bewaar moet word.
AfriForum het van die beplande ontwikkeling te hore gekom nadat bekommerde inwoners van Nylstroom met die burgerregte-organisasie se omgewingsafdeling in verbinding getree het. Verskeie boere en inwoners het hulle kommer oor die beplande ontwikkeling uitgespreek. Hulle grootste kwelling is water, alhoewel daar verskeie ander sosiale, ekonomiese en omgewingskwessies ook is. Die myn beoog om teen die vyftiende jaar 12-miljoen liter water per dag uit die grond te pomp. Nylstroom alleen is afhanklik van 3-miljoen liter water per dag. Die gebied verskaf water aan sowat 20 000 mense, wat heeltemal van hierdie bronne afhanklik is. Daar word beweer dat daar wel watertekorte is sodra die ondergrondse watertafel sak. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens word daar watertekorte teen 2014 voorspel. Die gebied word verder deur boere benut en word as ʼn hoë ekonomiese landbougebied beskryf. Kommer stop dus nie by die pomp van ondergrondse water nie, maar sluit ook die bou van ʼn damwal in die Nylrivier en dan ook die moontlikheid van suurmynwater in. Geologiese mynbedrywighede in die gebied sal stowwe en swaar metale, soos sulfate, vrystel, wat die oorsaak van suurmynwater is.
AfriForum is nie teen mynbedrywighede gekant nie. Dit is egter oneties om in so ʼn sensitiewe bewaringsgebied te ontwikkel. Daar is baie ander plekke vir platinum-myne, solank hulle net aan die volhoubare en omgewingsvereistes voldoen.













