Artikel 6 van die Suid-Afrikaanse grondwet bepaal dat alle amptelike landstale gelykwaardig behandel moet word. Dit vereis verder dat wetgewing die gebruik van die tale op nasionale en provinsiale regeringsvlak moet vasstel en moniteer. Tans bestaan daar egter geen nasionale wetgewing van die aard nie.
In 2003 is ʼn konsepwet na omvattende openbare raadpleging saamgestel. Dit moes deur die departement van Kuns en Kultuur aan die parlement vir goedkeuring voorgelê word, wat nooit gebeur het nie. Teen 2009 was dit duidelik dat die projek onbepaald op ys geplaas is. ʼn Prokureur, mnr. Cerneels Lourens, het met steun van onder meer Solidariteit en AfriForum die staat hof toe geneem weens die versuim om ʼn talewet te implementeer. In Maart 2010 het die Noord-Gautengse hooggeregshof beslis dat die staat skuldig staan en voor 16 Maart 2012 ʼn talewet in werking moes stel.
In 2011 is ʼn konsepwet gepubliseer – ʼn wetsontwerp wat die ingewikkelde kwessie van taalbestuur in Suid-Afrika tot slegs nege bladsye verskraal het. Openbare kommentaar is gevra en in Januarie 2012 kon belanghebbendes hulle insette aan die parlementêre portefeuljekomitee vir Kuns en Kultuur voordra. AfriForum was een van die instellings wat die geleentheid aangegryp het om ʼn meer gebalanseerde wet te vra, wat die toekomstige posisie van Afrikaans in die staatsdiens beskerm.
Aanvanklik het die portefeuljekomitee simpatiek voorgekom, maar uiteindelik is ʼn aangepaste dokument na die parlement verwys wat bepaal het dat net drie tale op nasionale vlak gebruik moes word. Twee van die drie moes “voorheen benadeelde tale” wees. Die derde gebruikstaal moes óf Afrikaans, óf Engels wees. Omdat die staatsdiens reeds tot so ʼn groot mate verengels het, is die kans dat Afrikaans bo Engels gekies sou word, uiters skraal. Dit sou beteken dat Afrikaans nasionaal uit die staatsdiens sou verdwyn. Die Afrikaanse gemeenskap het die aankondiging met woede begroet. AfriForum het beklemtoon dat ons gereed is om die staat vir hierdie ongrondwetlike optrede hof toe te neem.
Uiteindelik is ʼn paar oppervlakkige wysigings aangebring. Die jongste konsep bepaal dat enige drie amptelike tale gebruik mag word, maar dat nasionale entiteite en staatsdepartemente hulle plig om “voorheen benadeelde tale” te bevorder, in gedagte moet hou. Met Cerneels Lourens en die hof se toestemming is die sperdatum vir die implementering van die wet met ses maande uitgestel. Skynbaar sal nog geleenthede vir openbare insette geskep word.
AfriForum meen dat die wyse waarop die Talewet tot dusver hanteer is, tekenend is van die ANC-regering se wanadministrasie en onvermoë om die betekenis van taal te verstaan.
Duidelik sien die ANC ook nie deur sy ideologies-getinte anti-Afrikanerbril die bydrae raak wat Afrikaans tot dienslewering in die land kan lewer nie Indien dit nog verder as gebruikstaal in die staatsdiens afgeskaal sou word, kom die status van Afrikaans as hoë funksie taal in die gedrang, omdat dit in openbare gebruik moet bly om dié status te behou en as onderrigtaal in aanvraag te wees. Die ontkenning van Afrikaans is ook ʼn skending van die menseregte van alle Afrikaanssprekendes. Ons taal is onlosmaaklik deel van ons identiteit – deur die taal te ontken en van haar regte te ontneem, word haar sprekers se regte insgelyks geminag. AfriForum sal dit nie aanvaar nie en sal nasionaal en internasionaal op alle moontlike vlakke optree om die toekoms van Afrikaans te verseker.













