ʼn Mooi voorbeeld van erkentlikheid oor die gebruik van Afrikaans, begin met ʼn brief van ʼn lid, mnr. Jaap Meyer, aan Amana Boerdery. Hy het ʼn afskrif aan AfriForum gestuur, en skryf:
“Ek het gister ‘n kassie van julle koejawels gekoop. Ja, die koejawels is baie lekker, dankie dat julle dit so goed behandel. Die eintlike rede vir my skrywe is egter om vir julle dankie te sê omdat die drukwerk op julle verpakkingsmateriaal in Afrikaans en Engels is. Daar is so baie instansies en mense wat ons moedertaal ignoreer en sodoende dit ‘n stadige dood laat sterf. Hou aan en gebruik Afrikaans, dit is onsettend baie werd vir ons taal. Sterkte!”
AfriForum het ook ons waardering per e-pos aan die koejawelboerdery oorgedra. Pietman Muller, besturende direkteur van Amana Boerdery skryf toe terug aan ons:
“Baie dankie vir julle skrywe en vir julle mooi gebaar, dit word opreg waardeer. Dankie ook aan mnr. Meyer vir die positiewe terugvoer rakende ons vrugte. Afrikaans is vir ons belangrik en ons dring aan op die gebruik daarvan, waar moontlik. So is al ons Globalgap dokumentasie (ʼn internasionale akkreditasie vereiste vir vrugte uitvoer na die EU) in Afrikaans, omdat ons ons boerdery in Afrikaans bedryf. Ons het verlede jaar van diensverskaffer verander omdat hulle nie aan ons ʼn Afrikaanssprekende ouditeur beskikbaar kon stel om die jaarlikse oudit te doen nie. Ek het in die 90’s in Europa gesien hoe inspekteurs van Britse supermarkte maar moes verlief neem met Franse boere se dokumentasie wat alles in Frans was en het dit as voorbeeld geneem! Nogmaals dankie, dit is vir my ʼn riem onder die hart dat ons beskeie pogings raakgesien word.”
Ons hoor graag van nog besighede met so ʼn positiewe ingesteldheid jeens Afrikaans!













