Boukoste aan tolpaaie tot 228% duurder

‘n Navorsingsverslag bevind dat boukoste aan Gautengse tolpaaie tot 228% duurder as vergelykbare internasionale projekte is. Die navorsingsverslag rakende die Gautengse toltariewe, wat onder leiding van Mike Schüssler vir AfriForum en die Padvragvereniging opgestel is, het bevind dat die voorgestelde toltariewe buitensporig hoog is. Die boukoste wat per kilometer aan dié  tolpadprojek spandeer is, is tussen 106% en 228% duurder as die boukoste per kilometer van vergelykbare internasionale padverbeteringsprojekte.

Laai af:

AfriForum se mediaverklaring (4 April 2011):

ʼn Navorsingsverslag rakende die Gautengse toltariewe, wat onder leiding van Mike Schüssler vir AfriForum en die Padvragvereniging opgestel is, het bevind dat die voorgestelde toltariewe buitensporig hoog is. Die boukoste wat per kilometer aan dié  tolpadprojek spandeer is, is tussen 106% en 228% duurder as die boukoste per kilometer van vergelykbare internasionale padverbeteringsprojekte.

Die verslag waarin hierdie bevinding gemaak word, is vandag in Midrand deur Schüssler, AfriForum en die Padvragvereniging aan die ministeriële komitee, wat openbare insette rakende die voorgestelde toltariewe moet aanhoor, voorgelê. In die verslag word versoek dat ʼn onafhanklike ondersoek na die boukoste ingestel moet word en daar word aangevoer dat “dit onvanpas sou wees” om padgebruikers en verbruikers hiervoor verantwoordelik te hou.

In die verslag word ook bevind dat die maandelikse inkomste van R300 miljoen wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) luidens die organisasie se eie konserwatiewe beramings uit Gautengse toltariewe sal ontvang, aansienlik meer is as die R193 miljoen wat maandeliks benodig word om die projek se koste van R20 miljard oor 20 jaar te finansier. Prakties beteken dit dat die voorgestelde toltariewe nie net ten doel het om die projek te finansier nie, maar om ook ʼn inkomstebron te word ten koste van padverbruikers.

Alhoewel nasionale paaie in Gauteng slegs 4,5% van die totale lengte van die nasionale padnetwerk uitmaak, gaan Gautengse tolpaaie na raming teen 2012 tussen 58% en 62% van Sanral se inkomste genereer. Die finansiële las wat die nuwe tolpaaie op Gautengers gaan plaas, is gelykstaande aan ʼn 2%-verhoging in persoonlike inkomstebelasting. Arm mense gaan ook besonder hard getref word deur die styging in basiese produkte se pryse. Volgens die verslag is ʼn voorbeeld hiervan dat die prys van brood in Gauteng met 2% sal moet styg om die verhoogde vervoeruitgawes te dek.

Die verslag stel voor dat ʼn regulerende liggaam op die been gebring moet word om toltariewe te reguleer en te voorkom dat padgebruikers en verbruikers uitgebuit word deur buitensporige toltariewe soos wat tans voorgestel word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, behoort die toltariewe in die lig van die verslag se bevindinge dramaties afwaarts aangepas te word. Daarbenewens moet daar, volgens  Kriel, ook gewaak word dat BTW nie op tolgeld gehef word nie, en behoort lede van die publiek se toluitgawes belastingaftrekbaar te wees. “Dit sou net billik wees, aangesien die nuwe Gauteng-hoofwegverbeteringsprojek deur eksterne lenings gefinansier word. Daar word dus nie ʼn sent uit die staatskas daarvoor gebruik nie, terwyl motoriste wat tolpaaie gebruik, nou vyfvoudig belas word deur  inkomstebelasting, brandstofheffings, motorlisensies, tolgeld en die BTW wat hulle op tolgeld moet betaal,” het Kriel gesê.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit