2010 07 21 – AfriForum sal McBride-aanstelling in hof betwis
AfriForum het sy regspan opdrag gegee om voor te berei om die moontlike aanstelling van Robert McBride as hoof van die Tshwane-metropolisie in die hof ter syde te laat stel, sou die Tshwane-metroraad besluit om hom aan te stel. Dit volg nadat dit bekend geword het dat McBride op ʼn kortlys van vyf kandidate is om in die posisie aangestel word.
AfriForum het ook ʼn skrywe aan die burgemeester van die Tshwane-metroraad, dr. Gwen Ramokgopa, gerig waarin sy daarop gewys word dat die aanstelling van McBride in stryd met die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens 68 van 1995 sal wees.
Volgens Nantes Kelder, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, bepaal artikel 64 C van dié wet uitdruklik dat slegs ʼn lid van ʼn munisipale polisiediens as ʼn uitvoerende hoof van ʼn munisipale polisiediens aangestel mag word. “McBride is reeds in 2008 weg by die Ekurhuleni-metropolisie en het gevolglik intussen sy status as lid van ʼn munisipale polisiediens verloor,” het Kelder bygevoeg.
Kelder het daarop gewys dat die pos as hoof van die Tshwane-metropolisie reeds in omstredenheid gehul was deur kommissaris Mpho Mmutle, wat vroeër vanjaar bedank het, en is dit nie in die publiek se belang dat die pos deur nog ʼn omstrede figuur soos McBride gevul word nie.
“Selfs al sou McBride uiteindelik nie skuldig bevind word aan dronkbestuur nie, beskik AfriForum oor genoeg inligting oor McBride se mafia-agtige optrede tydens sy termyn as hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, wat daarop wys dat hy nie geskik is vir die pos nie,” het Kelder gesê.









