2010 07 16 – Zim boere slaag vir die derde maal voor SADC-Tribunaal
Boere in Zimbabwe wat deur die land se grondhervormingsprogram benadeel is, het hulle vir die derde maal suksesvol op die SAOG-Tribunaal in Windhoek, Namibië, beroep.
In die jongste uitspraak van die tribunaal wat vandag gelewer is, het die Tribunaal bevind dat die Zimbabwiese regering steeds nalaat om te voldoen aan twee bevindinge van die SAOG-Tribunaal van November 2008 en Junie 2009 en dat Zimbabwe se versuim aan ʼn volsitting van staatshoofde van die SAOG gerapporteer sal word.
Die Tribunaal het weer eens ʼn kostebevel teen die Zimbabwiese regering toegestaan.
Die Zimbabwiese regering het verlede week ʼn dringende aansoek teen mnre. Louis Fick, Michael Campbell en Richard Etheredge gebring, waarin gepoog word om die beslaglegging van Zimbabwiese eiendomme in Kaapstad, waarop die boere met AfriForum se hulp beslag gelê het, ter syde te stel. Die boere opponeer die aansoek met die steun van AfriForum en die saak sal op 3 Augustus 2010 in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.









