2010 07 15 – Afskaffing van spesialis-eenheid deels verantwoordelik vir toename in renosterstropery
Volgens AfriForum is die afskaffing van spesialis-eenhede in die polisie gedeeltelik verantwoordelik vir die toename in renosterstropery. Die voormalige Bedreigde Spesies Beskermingseenheid is saam met ander spesialiseenhede in die polisie afgeskaf. Volgens mediaberigte is daar vanjaar al 126 renosters gestroop. Dit is reeds ses meer as die totaal van 120 renosters wat in 2009 weens wildstropery dood is.
AfriForum se woordvoerder oor omgewingsake, James Kemp, sê daar is weggedoen met die spesialiseenheid sonder dat ʼn behoorlike alternatief in sy plek gestel is.
“Ons verwelkom die minister van Omgewingsake se inisiatief om ʼn taakspan op die been te bring om renosterstropery te ondersoek, maar in die lig van die toename in renosterstropery, soek AfriForum ook duidelikheid oor wanneer die eenheid behoorlik in werking sal wees,” het Kemp verklaar.
AfriForum het ook klagtes ontvang van werknemers in provinsiale reservate in Limpopo. Volgens AfriForum se bronne is die gemiddelde ouderdom van werknemers in die provinsie 55-jaar en is hulle nie toegerus met die nodige teen-stroop vaardighede nie. Volgens die werknemers is daar ʼn dringende behoefte aan jonger aanstellings, asook omvattende opleiding.
“Dit is belangrik dat diegene wat stropery op grondvlak beveg, se hande gesterk word deur hulle van die nodige befondsing, vaardighede en toerusting te voorsien. Die provinsiale regering en die minister behoort met hulle in gesprek te tree om knelpunte te identifiseer en saam stropery aan te pak,” het Kemp bygevoeg.









