Polisie magsvergrype barometer


As jy onlangs onregmatig gearresteer, of onder magsvergrype van lede van die SAPD, verkeers- of metropolisie deurgeloop het, vertel jou storie hier...

Skenk R10 vir AfriForum se veldtogte


SMS die woord “FORUM” na 38655.

  • Peiling

    Suid-Afrika se hoofstad se naam is

    Bekyk die uitslag

    Loading ... Loading ...
  • Argief

  • « 2009 06 30 - AfriForum sê: Dienslewering moet afname in belangstelling in emigrasie benut | Tuis | 2009 06 30 - Die UKKSA se uitspraak ten gunste van AfriForum re Tshwane »

    2009 06 30 - AfriForum wen saak teen SABC TV se gebruik van “Tshwane”

    Die tribunaal van die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) het vandag in AfriForum se guns beslis dat die SABC TV-nuus se gebruik van “Tshwane” om na Pretoria te verwys, op onbillike verslaggewing neerkom en derhalwe strydig met die UKKSA se kode is.  Dié beslissing volg nadat AfriForum vroeër vanjaar ʼn klag hieroor by die UKKSA ingedien het en die UKKSA-tribunaal op 18 Junie 2009 ʼn verhoor gehou het om aan beide die SABC en AfriForum se regspanne die geleentheid te bied om hulle onderskeie standpunte te stel. 

    Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die UKKSA se uitspraak nie net ʼn oorwinning vir AfriForum en die ondersteuners van Pretoria se naam nie, maar vir almal in die land wat wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe wil bevorder.  “Die ondermyning van Pretoria se naam, is ʼn daad van disrespek teen ʼn groot deel van die gemeenskap,” het Kriel gesê.  Volgens hom word die versoenende oplossing deur Pretoria as stadsnaam te behou, en die Metroraad Tshwane te noem, van die tafel gevee deur Pretoria se naam te misken.  Kriel het die hoop uitgespreek dat die UKKSA-uitspraak daartoe sal bydra om die Tshwane Metroraad te laat afsien van ideologies-gedrewe pogings om die publiek te mislei dat die hoofstad se naam nie meer Pretoria is nie. 

    Volgens die UKKSA-uitspraak loop die SABC die gevaar om herhaaldelik skuldig bevind te word van oortredings van die UKKSA se kode, indien hulle sou voortgaan om na Tshwane te verwys. 

    Kriel het in reaksie hierop ʼn beroep op die publiek gedoen om klagtes by die UKKSA in te dien, indien die SABC sou voortgaan om na Tshwane te verwys.  “Indien die SABC die UKKSA se uitspraak ignoreer en weer skuldig bevind word, kan die UKKSA die SABC swaar beboet en aanhou om hulle te beboet vir elke oortreding,” het Kriel bygevoeg. 

    AfriForum is tydens die verhoor op 18 Junie vanjaar deur prof. Marinus Wiechers en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verteenwoordig, terwyl Fakir Hassen, die SABC se bestuurder van Uitsaai Nakoming (Broadcast Compliance), die openbare uitsaaier se saak gestel het. 

    AfriForum het aangevoer dat die gebruik van die naam Tshwane op onbillike verslaggewing en ongelyke behandeling neerkom, omdat Tshwane die enigste munisipale naam is wat deurlopend tydens nuusbulletins gebruik word, terwyl alle ander dorpe en stede in die land se plekname, en nie munisipale name nie, gebruik word.  Dit is volgens AfriForum onprakties om deurgaans munisipale name te gebruik, aangesien die meeste munisipaliteite meer as een dorp of stad beslaan.  AfriForum voer aan dat alle stede en dorpe – insluitend Pretoria – se plekname om dié rede ter wille van billikheid eerder gebruik moet word. 

    Die UKKSA se kode bepaal in Artikel 34.1 dat uitsaaiers verplig is om nuus “billik” weer te gee.  AfriForum voer tereg aan dat die woord “billik” gelyke behandeling beteken en dat die feit dat Pretoria anders behandel word, gevolglik direk strydig met Artikel 34.1 van die UKKSA se kode is. 

    Die UKKSA se uitspraak is op aanvraag by Kallie Kriel beskikbaar.