AfriForum verwelkom die stappe wat die Klein Karoo Internasionale (KKI-) Abattoir geneem het om die luggehalte in Oudtshoorn te verbeter, nadat die lug die afgelope paar maande deur die onuitstaanbare stank van H2S gevul was as gevolg van dampe van die abattoir.
Volgens George Kersop, AfriForum se voorsitter in Oudtshoorn, hang daar egter nou ’n positiwiteit in die lug. “AfriForum het die betrokke partye vroeër vanjaar genader om die kwessie te takel. Ons wil ons dank uitspreek teenoor die Eden-distriksmunisipaliteit se luggehalte-eenheid, asook teenoor die Klein Karoo Internasionale Abattoir vir hul deursigtigheid en hul harde werk om die omgewingsgehalte te verbeter en om die plaaslike gemeenskap te dien,” het Kersop gesê.
Die Eden-dsitriksmunisipaliteit het versoek dat die abattoir ’n pypleiding vanaf sy aanleg na ’n ketel installeer. Die H2S verbrand dan in die ketel. “Die installasie is ongeveer twee weke gelede voltooi,” het Kersop bygevoeg.
Die KKI-abattoir is as een van vyf moontlike bydraende oorsake van Oudtshoorn se probleme met onsuiwer lug geïdentifiseer. “Ons vertrou dat die ander partye ook iets omtrent die aangeleentheid gaan doen deur KKI-abattoir se voorbeeld te volg deur praktyke in te stel wat hul bure se lugkwaliteit sal verbeter,” het Kersop gesê.
Die KKI-Abattoir het AfriForum en ander belanghebbende partye genooi om die terrein op Donderdag, 15 November te kom besoek.
AfriForum sal die situasie rondom Oudtshoorn se luggehalte bly monitor.













