AfriForum het ʼn brief aan die munisipale bestuurder van die Makhado-munisipaliteit gerig waarin die vrylating van die donkies wat die munisipaliteit vir aanneming beskikbaar gestel het, geëis word.
Volgens Wally Schultz, voorsitter van AfriForum Louis Trichardt (Makhado), oorweeg AfriForum dit om ʼn klagte van dieremishandeling aanhangig te maak. Volgens die Wet op Dierebeskerming is dit ʼn oortreding om enige dier onnodige uit te honger, te min te voer of nie kos of water te gee nie.
Die Makhado-gemeenskap het ʼn aantyging van dieremishandeling onder AfriForum se aandag gebring. “Die gemeenskap het duidelik aangedui dat hulle bereid is om eienaarskap van die diere te neem om te verhoed dat die munisipaliteit hulle doodmaak. Hulle is nie die kans gegun om dit te doen nie en daar word beweer dat twee van dié diere reeds gevrek het,” het Schultz gesê.
Die Wet sê: “Wanneer ʼn dier wat in die bewaring van die samelewing geneem is, nie binne sewe dae van die advertensie of kennisgewing aan die eienaar geëis is nie, sal die gemeenskap die dier op sy eie diskresie hanteer: Met die verstandhouding dat die samelewing die dier mag vernietig, ongeag die toestand van die dier, indien daar geen ander alternatief is om die dier te verwyder nie”.
“Dit is duidelik dat lede van die gemeenskap bereid is om die diere vir bewaring te neem en dat dit nie ʼn opsie is om die diere te vernietig nie,” het Schultz bygevoeg.
AfriForum het die munisipaliteit 48 uur gegee om die saak aan te pak en dit te oorweeg om die diere deur die gemeenskap te laat aanneem.













