2012 10 26 – ATR en AfriForum stel regsmening oor “Talewet” bekend

Alana 3

ʼn Regsmening oor die sogenaamde “Talewet” wat deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) en AfriForum van die internasionale taalregtespesialis, prof. Fernand de Varennes aangevra is, word vandag in Pretoria bekendgestel. In die verslag kom De Varennes tot die slotsom dat die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, wat op 7 Augustus 2012 deur die Parlement goedgekeur is, ernstige gebreke het en ongrondwetlik mag wees.

De Varennes noem vier vereistes waaraan wetgewing moet voldoen om veeltaligheid na behore in enige land te bestuur. Dit moet naamlik:

  • duidelik wees;
  • die amptelike tale proporsioneel vir staatsdoeleindes aanwend en die proporsionele gebruik van die tale netjies omskryf;
  • voorsiening maak vir instellings om die gebruik van die voorgeskrewe tale te verseker; en
  • voorsiening maak vir remedies om nakoming van die wetgewing af te dwing.

Hy bevind dat die wet aan nie een van die vereistes beantwoord nie en so vaag is dat dit tot die ongrondwetlike gebruik van die land se ampstale mag lei.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en ondervoorsitter van die ATR, is beide organisasies bekommerd oor die toekomstige doeltreffendheid van die wet omdat die deeglike en regverdige bestuur van taalregte in ʼn veeltalige gemeenskap soos dié van Suid-Afrika, noodsaaklik is om sosiale samehorigheid en stabiliteit te verseker.

“Die ATR het die regsmening reeds aan die kantoor van die minister van Kuns en Kultuur oorhandig. Dit sal nou ook aan alle belanghebbendes gestuur word. Daar word gehoop dat die minister sal let op die gebreke wat die verslag uitwys en dit regstel voordat met die implementering van die wet voortgegaan word. Indien nie, is die verslag ʼn deeglike agtergrond vir enige regsaksie teen die staat in dié verband,” het Bailey gesê. ʼn Verdere ideaal is dat ʼn Suid-Afrikaanse universiteit mettertyd ʼn kursus in taalregte sal aanbied en hopelik inspireer die verslag ʼn instelling om daarmee te begin.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit