2012 10 26 – AfriForum Jeug versoek publiek om na vore te kom met uitstaande sertifikate van Dienste-seta

image

AfriForum Jeug is sedert Maart vanjaar besig om met die Dienste-seta se hoofkantoor te skakel oor studente wat al vir meer as drie jaar vir hulle ambagsertifikate wag en gaan voort met regstappe teen die Dienste-seta.

“Ons het nou sowat 400 name van studente wat nog steeds vir hul sertifikate wag. Dit bewys weereens dat die Dienste-seta daarin misluk om mense wat ambisie vir ʼn beter toekoms het, te ondersteun,” het Ian Cameron, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

“Ons sal nie ophou met dié stryd nie. Dit is duidelik dat die staat en die instansies wat deur hulle gesubsidieer word, dit nie belangerik ag om mense op te lei nie. Hoekom moet landsburgers aanhou betaal, maar niks terugkry nie? Hierdie word die algemene tendens in Suid-Afrika, wat die regering betref – dit is ʼn duidelike skending van studente se reg tot billike administrasie,” het Cameron bygevoeg.

Cameron sê verder dat administratiewe wanbestuur by die Dienste-seta aan die orde van die dag is en dat die bevoegdheid van administratiewe beamptes betwyfel word. “Vakante poste is moontlik ’n verdere oorsaak vir die gebrekkige diens, maar meer duidelikheid sal verkry word deur ’n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting te rig.”

AfriForum Jeug beplan om ʼn massa-optog, wat uit studente wat steeds vir hulle Rooi Seël-sertifikate wag sal bestaan, na die Dienste-seta se kantoor te hou. AfriForum Jeug gaan ook voort met die aansoek om die Dienste-seta te verplig om alle sertifikate aan studente  te lewer.

“Ons soek antwoorde. Die jeug is moeg daarvoor om te werk vir iets, maar om dit nie te kry nie omdat die owerhede onbevoeg is om studente te help slaag in hulle soektog na beter opleiding,” het Cameron afgesluit.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit