AfriForum Jeug het vandag ’n amptelike uitnodiging aan die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) gerig waarin AfriForum Jeug hom bereid verklaar om ’n kursus te borg wat aan die Nyda-direksie onder meer die geleentheid sal bied om vaardighede ten opsigte van inkomste en uitgawes, basiese finansiële bestuur, korrekte tenderprosedures en kostebesparing te ontwikkel.
Dié vriendelike uitnodiging volg nadat onlangs berig is dat die NYDA byna R1 miljoen spandeer het aan barette vir vanjaar se Jeugdag-vieringe.
“AfriForum Jeug het reeds die NYDA aangegee by die ouditeur-generaal (OG) en die openbare beskermer (OB), en het persoonlike skrywes aan Collins Chabane, minister in die presidensie, gerig. Daarom is daar geen ander alternatief meer oor nie as om self te probeer verhoed dat belastingbetalers se geld verder vermors word,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.
Indien die NYDA bereid sou wees om die uitnodiging aan te neem, sal AfriForum Jeug die koste daarvan dra om binne 30 dae ’n finansiële opknappingskursus vir die direksie te bespreek op ’n plek wat vir hulle die toeganklikste sal wees.
AfriForum Jeug het verder aangedui dat hierdie gebaar ’n gemeenskapsontwikkelings-inisiatief is aangesien duisende jongmense se ekonomiese toekoms tans in die hande van ’n onbekwame regeringsinstansie is, en AfriForum Jeug die belangrikheid van opleiding, veral onder regeringsamptenare, onderskryf.













