AfriForum het vandag in ʼn skrywe aan die minister van polisie, Nathi Mthethwa, aangedui dat dié organisasie van voorneme is om 1 Desember 2012 as ʼn nasionale dag van protes teen plaasmoorde te verklaar, as die minister met sy traak-my-nieagtige houding teenoor boere se veiligheid sou voortgaan. Op dié dag sal meer as 100 memorandums by plaaslike polisiestasies regoor Suid-Afrika oorhandig word. Protesbyeenkomste sal ook in Pretoria en Bloemfontein gereël word en ʼn memorandum waarin die realiteit van plaasmoorde toegelig word sal tydens ʼn forum oor minderheidsaangeleenthede by die Verenigde Nasies se Hoofkantoor in Switserland gelees word.
“1 Desember is ook die dag waarop Attie (40), Wilna (36) en hul babadogter, Willemien (3) Potgieter in 2010 op hul plaas in Lindley vermoor is,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. “Die projek is reeds met die naasbestaandes van die Potgieter-gesin bespreek en hulle het onderneem om by dié projek betrokke te wees. Meer as 350 lede van die publiek het reeds op www.stopdiemoorde.co.za onderneem om hierdie projek in hul gemeenskappe uit te voer. Dit sluit nog nie AfriForum se bykans 100 plaaslike takke in nie.”
In die skrywe het Roets verduidelik dat daar ʼn reeks struikelblokke in die berekening van die ware plaasmoordsyfer is, waarvan die polisie se weiering om statistieke oor plaasmoorde vry te stel die grootste is. “Die polisie se stilswye oor die onderwerp word gesien as ʼn bevestiging van die persepsie dat boere se veiligheid nie vir die regering ʼn prioriteit is nie.”
“Hoewel daar groot spekulasie oor die presiese plaasmoordsyfer is, is die uniekheid van plaasmoorde opsigself voldoende rede om hierdie misdaad te prioritiseer en ʼn teenstrategie uit te werk,” het Roets gesê. “Die feite is eenvoudig dat boere in gevaar verkeer en dat hulle in unieke omstandighede in afgeleë gebiede woon waar die reaksietyd van die polisie en selfs hul gemeenskappe geensins met dié van stadsbewoners vergelyk kan word nie.”
AfriForum het gistermiddag besluit om ná ʼn telefoongesprek met Zweli Mnisi, die minister se woordvoerder, vir oulaas aan die minister te skryf. Mnisi is geskakel om AfriForum se voorneme onder die minister se aandag te bring. Hy het geantwoord dat hulle die inisiatief nie kan weier nie, maar gevra dat AfriForum nog een keer oor die onderwerp vir die minister skryf.













