AfriForum het vandag ʼn memorandum aan 110 ambassades en internasionale instellings gerig waarin dié burgerregte-organisasie ʼn beroep op die internasionale gemeenskap doen om diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om die kwessie van plaasmoorde aan te spreek. Elke memorandum is deur ʼn afdruk van die boek Land of Sorrow (Engelse weergawe van Treurgrond) asook die dokumentêre film oor plaasmoorde War of the Flea vergesel.
ʼn Afskrif van die memorandum, sowel as die boek en DVD, is ook vandag per hand aan ʼn verteenwoordiger van president Jacob Zuma by die Uniegebou oorhandig.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat hierdie aksie deel van AfriForum se Stop die Moorde-veldtog is. “Ons uiteindelike doel is om die regering te oortuig om plaasmoorde tot ʼn prioriteitsmisdaad te verklaar en om spesialiseenhede vir landelike veiligheid daar te stel. Met hierdie aksie wil ons die internasionale gemeenskap in kennis stel van ʼn katastrofe wat deur ons eie regering uit die gesig uit geboender word.”
AfriForum se navorsingspan het die lys van lande en internasionale organisasies opgestel. Daar is spesifiek gefokus op lande en instellings wat nog nie van die probleem bewus is nie en wat moontlik diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering kan toepas. ʼn Aantal internasionale mediamaatskappye is ook geïdentifiseer.
Roets het bygevoeg dat hulle met die onderskeie instansies sal opvolg om seker te maak dat hulle die dokumente ontvang het. “Die internasionale aspek is egter net een element van ons veldtog teen plaasmoorde,” het hy bygevoeg. “Ons beplan ook om meer aktief betrokke te raak by gemeenskapsveiligheidsnetwerke en om op plaaslike vlak selfs groter druk op die regering te plaas. Ons beplan ook om ʼn omvattende navorsingsverslag oor plaasaanvalle, wat spesiaal vir AfriForum saamgestel is, teen die einde van die maand bekend te stel.













