2012 10 05 – AfriForum vat hande met Karoo Hoogland-munisipaliteit

karoo-1

Die burgerregte-organisasie AfriForum het tydens ʼn vergadering met die Karoo Hoogland-munisipaliteit besluit om met hulle hande te vat om ʼn einde aan dispute oor die begrotingsproses te maak en dienslewering aan te pak.

Die gesprekvoering volg nadat AfriForum by die Nasionale Tesourie beswaar oor die manier waarop die begrotingproses gevolg is, aangeteken het. Die burgemeester het erken dat daar foute met die begroting begaan is, maar het verduidelik dat hulle onder druk was om die begroting goed te keur om te verhoed dat dienslewering in duie stort. Die vertraging van die proses kan grotendeels aan interne probleme by die munisipaliteit toegeskryf word.

Die vergadering is bygewoon deur: Jan Julies, die burgemeester; Ernest Saayman, die munisipale bestuurder; Riaan van Wyk, pastoor Johan Coertze en Deon Zuurmond, verteenwoordigers van die plaaslike AfriForum-tak. Die vergadering is deur Pieter Rautenbach en Wesley Martin van AfriForum se hoofkantoor in Pretoria gelei.

Tydens die gesprek is alle kwelpunte asook die oorsaak daarvan in diepte bespreek. Alle partye het op die pad vorentoe en hoe probleme aangepak kan word gefokus, sodat die gemeenskap se belange altyd eerste gestel sal word.

Daar is reeds ʼn raadsbesluit geneem om gesprekke met die publiek by die onderskeie dorpe te hou waartydens besware teen die begroting aangehoor sal word.  Moontlike wysigings sal dan deur middel van ʼn aanpassingsbegroting aangebring word. 

AfriForum doen ʼn beroep op die publiek om die vergaderings by te woon en hulle besware skriftelik by die munisipaliteit in te dien.

AfriForum sal ook ʼn wenslys opstel van verwagtinge oor dienslewering wat saam met die munisipaliteit in ʼn aksieplan omskep sal word en dan maandeliks bespreek sal word.

Die AfriForum Williston-tak spreek sy wense uit dat hierdie die begin is van ʼn suksesvolle vennootskap wat Williston kan hervestig as ʼn veilige en vreedsame dorp vir almal.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit