Die burgerregte-organisasie, AfriForum verwelkom die inhegtenisneming van drie verdagtes vir die moord van die bokslegende, Corrie Sanders. AfriForum wens ook die polisie geluk met dié spoedige deurbraak.
Nantes Kelder, die hoof van AfriForum se ondersoekeenheid, sê die verdagtes se inhegtenisneming sal Sanders nie terugbring nie, maar dat dit kardinaal is vir misdadigers om te weet dat hulle gevang sal word wanneer hulle die wet oortree.
Die drie Zimbabwiese mans is in die Oukasie informele nedersetting naby Brits in die Noordwes-provinsie vasgetrek, nadat polisie ʼn wenk opgevolg het. “Dit is tyd dat daar strenger maatreëls daargestel word wanneer buitelanders die land wil binnekom,” sê Kelder.
Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Brits Landdroshof verskyn.
Sanders was Saterdagaand by die Thatch Haven Country Lodge in Brits toe die gewapende rowers ingestorm en skote begin afvuur het. Sanders is in die hand en maag getref en is Sondagoggend in die Kalafong-hospitaal in Pretoria-Wes oorlede.
AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel was by dieselfde restaurant toe Sanders geskiet is.













