“Ons gaan fisiese aksie neem as daar nie ʼn oplossing kom nie,” het ʼn besorgde inwoner van die Mafube-munisipaliteit gesê. AfriForum het op 20 September ʼn gemeenskapsvergadering gehou om die besware van die inwoners van Frankfort, Villiers, Tweeling, Cornelia en Qalabotjha aan te hoor.
Dié vergadering is deur meer as twee honderd mense bygewoon. Emosies het hoog geloop toe ʼn kontrak tussen ʼn diensverskaffer van elektrisiteit en die Mafube-munisipaliteit in diepte bespreek is. Die meeste klagtes het oor die verhoging in tariewe en aansluitingfooie gehandel. Na bewering het dié in sommige gevalle meer as verdubbel. AfriForum het versoek dat die publiek na vore kom met bewyse en vergelykende rekeninge om dié verhogings te bevestig. Vergelykings is ook getref tussen die prys van kragvoorsiening in nabygeleë dorpe wat krag direk vanaf Eskom ontvang en dorpe wat onder die Mafube-munisipaliteit val.
Pieter van der Westhuizen, voorsitter van die AfriForum Frankfort-tak, het dele uit die Ouditeur-Generaal se verslag aangehaal om die gemeenskap in kennis te stel dat die verslag dié munisipaliteit onbevoeg verklaar en nie as ʼn lopende entiteit beskou nie. AfriForum het tydens die vergadering genoem dat ʼn klousule in die kontrak tussen die diensverskaffer en die Mafube-munisipaliteit die diensverskaffer die reg gee op eerste weiering en om ander dienste ook oor te neem.
AfriForum het die mandaat ontvang om met die diensverskaffer te onderhandel en daarna sy regspan te raadpleeg om die weg vorentoe te besluit. Dit kan ʼn forensiese ondersoek asook regstappe insluit.













