Die burgerregte-organisasie AfriForum en die Marble Hall-sakekamer het met die Ephraim Mogale-munisipaliteit en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA) oor verskeie gemeenskapsprobleme vergader.
Die vergadering volg nadat die sakekamer vir ʼn geruime tyd reeds met die munisipaliteit in gesprek was oor verskeie gemeenskapsake wat nie opgelos kon word nie. Dit het daartoe aanleiding gegee dat AfriForum genader is om die gemeenskap en die sakekamer by te staan.
Volgens Tiaan Esterhuizen, AfriForum se organiseerder in Limpopo, het die vergadering tussen dié organisasie, die sakekamer en die munisipaliteit in ʼn baie positiewe gees plaasgevind en goeie vordering is gemaak. Besluite wat onder meer geneem is, is dat ʼn aksieplan om die voortslepende probleem van straatsmouse te hanteer, opgestel sal word. Die eiendomswaardasierol sal heropgestel word en dit sal gepaardgaan met ʼn proses van behoorlike openbare deelname. Die munisipaliteit het voorts ook onderneem om nie die belastingbetaler twee keer te belas nie.
Volgens Esterhuizen sal die munisipaliteit aanstaande week terugvoering gee oor uitstaande skuld van by die R30 miljoen wat afgeskryf is. Die munisipaliteit het ook onderneem om ʼn aksieplan saam te stel oor probleme rondom parkering vir vragmotors en minibustaxi’s.
Die betrokke partye sal weer in November vergader om terugvoering oor die onderskeie aksieplanne te ontvang en die vordering wat gemaak is om die gemeenskap se probleme op te los, te bespreek.
Esterhuizen het ook aangedui dat dit AfriForum se wens is dat die partye saam oplossings vir hul kwessies sal vind sonder dat dit nodig is om ʼn hof daaromtrent te nader.













