AfriForum het die Saldanha-munisipaliteit versoek om aksie teen gevaarlike gasvrystellings van verskeie visfabrieke in St Helena Baai te neem.
Volgens Lillian Alberts, ʼn lid van AfriForum, eis die gemeenskap aksie teen lugbesoedeling in St Helena Baai. “Ons is bekommerd oor ons gesondheid. Die metodes wat gebruik word om die saak te hanteer en aan te roer is nie doeltreffend nie. Dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om die gemeenskap te dien en te verseker dat hulle grondwetlike regte beskerm word,” sê Alberts.
Die Saldanha-munisipaliteit het ʼn moniteerstasie by die HP Williams Primary School gestig om data te versamel oor die kwantiteit waterstofsulfied (H2S) in die gebied. “Alhoewel ten minste 80% van die gasvrystellings herwin moet word, wys alle data van die afgelope sewe maande dat herwinning baie minder as 80% vir H2S was. Vir sommige maande was dit so min as 21%, 8% of 0%. Dit is onaanvaarbaar,” sê Alberts.
Daar is bewys dat kroniese laevlak inaseming van H2S net so giftig is as die akute vlakke waterstofsianied wat gebruik is om mense in Nazi-kampe meer as 60 jaar gelede uit te wis.
“Die H2S-lesings is meestal oor die voorgeskrewe limiete en wissel tot hoër as 200 µg/m³, wat die perke van die Wêreldgesondheidsorganisasie se limiet van 7 µg/m³ vir mense in die werkplek grof oorskry. Kinders, bejaardes en mense met ʼn lae immuniteit moet nie meer as 2 µg/m³ inasem nie,” voeg Alberts by.
AfriForum het die Saldanha-munisipaliteit tot Woensdag 19 September gegee om dié burgerregte-organisasie van ʼn volledige aksieplan, om die saak aan te pak, te voorsien.













