2012 09 12 – AfriForum vestig tak in Groblersdal

Suid-Afrika

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ʼn plaaslike tak in Groblersdal, Limpopo gestig. Dit volg nadat AfriForum verskeie klagtes van die publiek oor swak dienslewering en die munisipaliteit se versuim om na die gemeenskap se belange om te sien, ontvang het.

AfriForum is besig om ’n nasionale voetspoor te vestig deur takke in gemeenskappe te vestig. Dié organisasie het die afgelope jaar 94 takke landwyd gestig en gemeenskappe só in staat gestel om swak dienslewering, korrupsie en ander wandade waaraan munisipaliteite hulle skuldig maak, teen te staan.

“Gemeenskappe kom toenemend onder druk weens die staat wat sy pligte teenoor die land se inwoners versuim. Dit het swak dienslewering en onveilige woonbuurte tot gevolg. Gemeenskappe moet hul strate van misdadigers en onbeholpe stadsrade terugneem,” sê Willie de Beer, voorsitter van die AfriForum Groblersdal-tak.

Plaaslike AfriForum-strukture kan op AfriForum se hoofkantoor steun vir regshulp en kry voorts ook bystand ten opsigte van opleiding, administratiewe sake en kommunikasie.

Die eerste projek wat die plaaslike AfriForum-tak gaan aanspreek is die 38%-salarisverhoging van munisipale direkteure, wat volgens AfriForum ʼn onwettige besluit deur die raad was. AfriForum gaan ook ondersoek oor die wanbesteding van belastingbetalers se geld instel.

Volgens De Beer is al die komiteelede mense wat omgee vir die gemeenskap en juis daarom bereid is om hard te werk en die waardes wat die organisasie aanhang, doeltreffend uit te leef en te beskerm. Hy het gesê dat hy baie daarna uitsien om die nuwe tak tot ’n krag in die Groblersdal-gemeenskap op te bou.

Meer as 80 mense is reeds lede van AfriForum in Groblersdal en daar word verwag dat die ledetal vinnig gaan groei. Lede van dié gemeenskap wat gretig is om aan te sluit, kan die woord Groblersdal na 31488 SMS. Almal word uitgenooi om by die dinamiese organisasie aan te sluit. Word ’n lid sodat u ingelig kan word oor die opwindende aksies en projekte wat beplan word.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit