2012 09 07 – Hooggeregshof wys Motata aansoek van die hand

Motata - Beeld

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het uitspraak gelewer in die omstrede regter Nkola Motata se aansoek om toegelaat te word om weer as regter op te tree hangende die dissiplinêre proses van die Regterlike Dienskommissie wat nog onderweg is.

Dié aansoek van Regter Motata is gebring teen die Minister van Justisie, die Regterlike Dienskommissie en die burgerregte-organisasie, AfriForum. Al-drie die partye het die aansoek geopponeer.

ʼn Regter is van die Oos-Kaapse-afdeling van die hooggeregshof ontbied om die aansoek aan te hoor, aangesien regter Motata self ʼn regter in die Noord-Gautengse afdeling van die hooggeregshof is.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het in sy reaksie gesê AfriForum verwelkom die uitspraak van Regter Jean Nepgen in die aansoek van Motata, aangesien daar by AfriForum geen twyfel is dat regter Motata nie bevoeg is om as regter op te tree, nadat hy reeds aan dronkbestuur skuldig bevind is na ʼn voorval waarin hy growwe rassistiese uitlatings teenoor polisielede en lede van die publiek gemaak het nie.

Daar word verwag dat ʼn tribunaal van die Regterlike Dienskommissie die dissiplinêre ondersoek teen regter Motata binnekort verder sal voer.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit