2012 09 07 – ‘Fracking’ skokkende besluit oor hidroliese breking – AfriForum

karoo-1

[Foto: www.parks-sa.co.za/parks/karoo/]

AfriForum is geskok deur die kabinetsbesluit om die moratorium op hidroliese breking, bekend as ‘fracking,’ op te hef om vir skaliegas in die Karoo te prospekteer.

Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, kan dié besluit katastrofale gevolge vir die toekoms inhou. “Suid-Afrika is ’n waterskaars land. Regoor die wêreld is dit duidelik dat hidrobreking ekosisteme verwoes en veral water besoedel,” het Kleynhans gesê.

Die minister van minerale bronne, Susan Shabangu, het verlede jaar ’n moratorium op hidrobreking in die ekologies sensitiewe Karoo ingestel en dié moratorium is nou opgehef. “Die area is ’n uiters sensitiewe, semi-woestyn-omgewing wat nie weer na sy natuurlike staat sal herstel na so ’n impak nie. Ongeag watter voorsorg ook al getref word, dit kos net een glips of ’n kortpad wat gevat word en die omgewing sal onherstelbaar geskaad wees,” het Kleynhans gemeld.

“Dit is juis om dié rede dat AfriForum die voorgestelde wysigings aan die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur in die parlement teengestaan het. Die wysigings maak voorsiening daarvoor dat die verantwoordelikheid vir omgewingsbestuur gedeel word tussen die departement van omgewingsake en die departement van minerale bronne, wat die departement van minerale bronne in staat stel om besluite aangaande omgewingsbestuur in die mynsektor te kan neem,” het Kleynhans gesê.

Die internasionale oliegroep Shell SA, Bundu Gas & Oil en Falcon Gas & Oil het aansoek gedoen vir eksplorasielisensies vir skaliegas in ’n gebied van oor die 250 000km² in die Karoo.

AfriForum gaan stappe teen die besluit neem in die vorm van ’n veldtog teen hidrobreking.

Filiale

  • AfriForum 911
  • AfriForum Jeug
  • BlyNet
  • Helpende Hand
  • Kom Huistoe-Veldtog
  • Placement Partner
  • Sol-Tech
  • Solidariteit